Eagles hou halfeind-deur oop

Bertie Jacobs

Jinne, dit gaan verdeksels naby wees. Die NWU Eagles het Maandagaand 4 April in ʼn papsopnat Bloemfontein hulle uitspeelronde-hoop aan die brand gehou deur die CUT Ixias met 33–14 te klop.

Dit was ʼn gepaste geskenk vir afrigter André Pretorius, wat die Eagles in sy vyftigste wedstryd gebrei het. Sy twee voormalige Springbokspanmaats en mede-Wêreldbekerwenners, Frans Steyn en Ruan Pienaar, het die span se truie oorhandig.

Ook goed so, want die Eagles het enige omkoopgebaar vir die noodlot broodnodig gehad. Met een wedstryd teen Wits Maandagaand 11 April op die Fanie du Toit-sportterrein oor, kan die Eagles steeds die halfeindronde haal. Maar, máár, dan is ʼn wen ononderhandelbaar én UJ gaan Tuks ʼn bloedneus moet gee.

Die Eagles beklee tans die vyfde plek op die algehele punteleer met 24 punte. Tuks is vierde met 25 punte en UJ sesde, ook met 24 punte. Die Eagles en Tuks spog albei met vyf seges, terwyl UJ vier merkies op hul kerfstok het.

Kom ons gaan eers gou terug na die kragmeting met CUT toe. Die weerstoestande het allermins vir aanskoulike rugby gesorg en albei spanne moes op hulle voorspelers se knoppies druk. Marvelous Mashimbyi het die Eagles se eerste drie gedruk, waarna die Ixias met twee losgemaal-drieë teruggeslaan het. Vleuel Keenan Twigg, skrumskakel Sylvester Hassien en agtsteman André Fouché het elk in die tweede helfte gedruk om die uitslag te verseker. Martin Venter het vir vier doelskoppe gesorg. 

André Fouché is weereens as die Player that Rocks aangewys. Hy het ʼn fenomenale seisoen. Dit gaan interessant wees om te sien of hy sy spelpeil later vanjaar in een van afrigter Jimmy Stonehouse se Puma-truie gaan voortsit. 

Submitted on Thu, 04/07/2022 - 10:25