Driehoek-tragedie – NWU-kundige beklemtoon die behoefte aan professionele traumaberading

Die land is op Vrydag 1 Februarie 2019 geskok deur die nuus dat ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineengestort het.


Leerders was besig om die oggend se saalbyeenkoms te verlaat om na hulle onderskeie klaskamers toe te gaan toe die tragedie plaasvind. Drie leerders, Roydon Olckers, Jandré Steyn en Marli Currie, is op die toneel oorlede, met ’n vierde leerder, Marnus Nagel, wat twee dae later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Ná die tragedie het die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark ingetree om leerders en hulle gesinne met traumaberading te help.

In hierdie meningstuk deel prof Hayley Walker-Williams, medeprofessor in sielkunde in die Skool vir Psigososiale Gesondheid, haar gedagtes oor die stappe wat ’n professionele traumasielkundige tydens ’n proses van rouberading en ontlonting sal moet volg.

Trauma – ’n gebeurtenis buite die grens van normaliteit

Trauma behels ervarings wat ’n persoon se vermoë om iets te hanteer heeltemal oorweldig. Trauma is die gevolg van ’n negatiewe lewenservaring – soos die noodlottige strukturele ineenstorting by Hoërskool Driehoek.

Die gebeurtenis was onverwags en buite die grens van normaliteit en beheer vir die kinders, personeel, gesinne en gemeenskapslede wat betrokke was. Hierdie gebeurtenis het die betrokkenes oorweldig gelaat, en nie in staat om die omvang van die situasie te begryp of te hanteer nie. So ’n traumatiese gebeurtenis gaan gepaard met ’n verskeidenheid simptome soos skok, ontkenning, woede, hartseer, verwarring, vrees, rou en hartseer. Ander tipiese reaksies sluit in nagmerries, terugflitse, skrikreaksies (skrik maklik en is angstig), vermydingsgedrag en probleme met konsentrasie.

Stappe om te volg

Die eerste stap is om oorlewendes van so ’n traumagebeurtenis te help om te besef dat hierdie simptome en reaksies as normaal beskou word, en dat dit ná so ’n onbegryplike gebeurtenis te wagte is. Dit is wat ons die normalisering van traumasimptome noem, waar ons aan oorlewendes verduidelik dat hulle simptome nie ’n teken van swakheid is nie, maar ’n normale reaksie op ’n verwoestende, abnormale gebeurtenis.

Die volgende stap behels sielkundige ontlonting. Dit is uiters belangrik ná so ’n traumatiese gebeurtenis om die sielkundige simptome en reaksies te verminder en die ontwikkeling van langtermyn- negatiewe uitkomste, soos posttraumatiese stresversteuring, te voorkom.

Ontlonting as emosionele noodhulp

Ontlonting is ’n vorm van emosionele noodhulp en behels dat ’n persoon met ’n geregistreerde sielkundige of maatskaplike werker gesels oor hulle vlak van blootstelling, sensoriese ervarings en die gedagtes en gevoelens wat met die gebeurtenis verband hou. Dit moet in ’n veilige, geslote genesingsruimte deur ’n toepaslik gekwalifiseerde kundige hanteer word ten einde verdere traumatisering te voorkom.

Hierdie uitpraat en validering is nodig om aan die persoon ’n geleentheid te gee om die posttraumarealiteit te begin verstaan, en sodoende die ontstellende simptome te begin verdra, aanpassende hanteringsvaardighede aan te leer en ’n gevoel van outonomie te hervestig. ’n Noodsaaklike bestanddeel in hierdie proses is om aan oorlewendes psigo-opleiding te gee, met ander woorde inligting oor wat om ná die trauma te verwag ten opsigte van hoe hulle sal dink, voel en optree, en – belangriker – hoe om hierdie gedagtes, emosies en reaksies te hanteer.  

Ontlonting word gewoonlik binne 24 tot 72 uur ná die trauma gedoen. Die omvang van die trauma sal dan bepaal of langertermyn- psigoterapeutiese tussenkoms nodig is. Dit beteken dat, hoe nader die persoon aan die gebeurtenis of uitwerking van die katastrofiese gebeure was, hoe ernstiger sal hulle vlak van sielkundige angs wees. Langertermyn- psigoterapeutiese tussenkoms sal dus nodig wees wanneer die omvang van die blootstelling groter is en die individu se simptome voortgaan om ’n beduidende impak op hulle funksionering tuis, by die werk of die skool te hê nadat hulle die aanvanklike trauma-ontlonting ontvang het.

Algemene sielkundige behandeling kan die persoon help om die onverstaanbare gebeurtenis te verstaan, en die moeilike emosies, gedagtes en reaksies wat daarmee gepaardgaan in ’n veilige, geslote omgewing toepaslik te ervaar en te reguleer. Dit help die persoon ook om deur die verskillende fases in die herstelnadraai te werk. Daar is geen resep vir traumaherstel nie, en elke persoon sal anders reageer. Dit gebeur egter oor die algemeen dat gemeenskappe in tye van trauma saamstaan en troos en ondersteuning bied.

Kontak asseblief die Skool vir Psigososiale Gesondheid op die kampus in Vanderbijlpark of prof Hayley Walker-Williams, kliniese sielkundige, by 016 910 3413 vir verdere hulp of navrae.

 

Prof Hayley Walker-Williams.

Submitted on Thu, 02/07/2019 - 08:37