Drie dosente as OBU-genote (TAU fellows) gekies

Drie akademici van die Noordwes-Universiteit (NWU) is vir die Suid-Afrikaanse Onderrigbevordering by Universiteite-genootskapprogram (OBU-genootskapprogram) gekies.

Dit is ’n groot eer om deur die OBU-paneel gekies te word en bevestig weer eens dat die NWU se akademici ’n welverdiende reputasie ten opsigte van hulle kundigheid, harde werk en toewyding het.

Die drie dosente op wie die NWU baie trots is, is twee senior lektore van die Fakulteit Regte, dr Allison Geduld en dr Kesolofetse Lefenya, en dr Teresa Hattingh, senior lektor by die Fakulteit Ingenieurswese.

Hulle sê dat hulle geëerd voel om aan die gesogte 2021-OBU-program deel te neem.

Die OBU-program wil ’n bydrae lewer tot die bevordering van onderrig en leer in hoër onderwys in Suid-Afrika deur die ontwikkeling van akademici as vakkundiges, leiers en mentors op hulle gebiede oor instellings en dissiplines heen te ondersteun.

Dit bevorder ook die status en statuur van onderrig en populariseer die begrip van onderriguitnemendheid in ’n verskeidenheid institusionele en dissiplinespesifieke omgewings.

Die OBU-program stel sy genote in staat om hulle vermoëns te ontwikkel om as agente van verandering betrokke te raak en ’n bydrae te lewer, individueel asook gesamentlik, sodat maatskaplik-regverdige onderwys uitgebou kan word.

Hulle deel hulle onderrigkundigheid

Dit is vir dr Geduld ’n baie groot voorreg om ’n plek in hierdie program te ontvang. “Ek hoop om die relevante kennis en vaardighede te verkry om ’n bydrae tot die innovasie van onderrig en leer by ons universiteit te kan lewer.”

Dr Lefenya sê dat sy die genootskap beskou as ’n aanduiding dat sy baie potensiaal het om nie net ’n beter dosent te word nie, maar ook ’n beter leerder.

“Ek sal die vaardighede wat ek verkry, met al my kollegas en studente kan deel.” Sy sê dat dit haar in staat sal stel om onderrig en leer meer betekenisvol, opwindend, doeltreffend en effektief te maak. “Ek sal aan die einde van die program ’n goeie ambassadeur vir die NWU op die gebied van onderrig en leer wees. Ek beskou dit as ’n groot prestasie.”

Dr Hattingh sê dat sy baie opgewonde is oor die genootskap. “Dit verskaf die ruimte om nuwe gesprekke te begin, en nuwe verhoudings en samewerking regoor instellings en dissiplines te bou.  

“Dit kan moeilik wees vir akademici om die ruimte tussen vakspesifieke navorsing en vakkundige onderrig en leer te navigeer. Vir akademici wat ’n passie het om by vakkundigheid en onderrig en leer betrokke te wees, is daar talle uitdagings om ’n gemeenskap en ’n gevoel van samehorigheid te identifiseer.

“Ek verstaan ook die talle struikelblokke wat hierdie akademici ervaar wanneer hulle die literatuur en metodologiese oorwegings van ’n hele nuwe vakgebied moet bestuur.”

Dr Hattingh glo dat die OBU-genootskapprogram ’n platform skep om hierdie kwessies aan te pak en om kapasiteit te bou en betrokkenheid aan te moedig.

Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, het die drie akademici gelukgewens.

Hy sê dat die NWU Raad onlangs die nuwe onderrig-leer-strategie vir toepassing oor die volgende vyf jaar goedgekeur het. ’n Verbintenis van die universiteit wat voorop in hierdie strategie is, is om toekomstige professionalisering van akademiese personeel te ondersteun.

“Die OBU-genootskapprogram verskaf ’n gesogte en goed ondersteunde geleentheid vir uitgesoekte akademici van die NWU om insig, ervaring en waardevolle netwerke op die gebied van onderrig-leer-uitnemendheid te verkry soos dit deur die Hoër Onderwys Leer- en Onderrigvereniging van Suider-Afrika bevorder word.”

Allison Geduld     Kesolofetse Lefenya     Teresa Hattingh
Dr Allison Geduld   Dr Kesolofetse Lefenya   Dr Teresa Hattingh



 

Submitted on Fri, 11/27/2020 - 14:02