Dr Bismark Tyobeka oor Suid-Afrika se toekoms met kernkrag

Die debat oor kernkrag is nou al meer as ’n driekwarteeu aan die gang.  Voorstanders daarvan hemel steeds die deugde daarvan op, terwyl dié wat daarteen gekant is, vas glo dat die risiko’s swaarder as die voordele weeg. Die bekende kernerenergiekundige en visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), dr Bismark Tyobeka, is onlangs benoem om as Suid-Afrika se verteenwoordiger op die senior bedryfsadviespaneel (Senior Industry Advisory Panel, SIAP) van die Generation IV International Forum (GIF) te dien.

Dr Tyobeka deel sy gedagtes oor wat die toekoms vir kernkrag inhou.

• Glo jy dat kernkrag die pad vorentoe is vir ’n lewensvatbare vervanging van fossielbrandstof om krag op te wek?

“Kern- en steenkoolkragstasies is tans die vernaamste opwekkingsbronne van dit wat basislaselektrisiteit genoem word, met ander woorde eenhede wat 24 uur lank ononderbroke elektrisiteit kan opwek.  Dit is nie die geval met ander bronne soos wind, son en water nie. Ek glo ons het ’n gebalanseerde energiemengsel nodig wat alles insluit. In die lig van Suid-Afrika se internasionale verpligtinge teenoor pogings om klimaatsverandering te versag, sal ons egter ongelukkig mettertyd steenkool soos ons dit ken, moet uitfaseer, en hopelik skoon steenkooltegnologieë inbring om emissies te verlaag.

“Dit is waarom die kwessie van ‘regverdige energie-oordrag’ deesdae in ontwikkelende lande hoogs aktueel is. Wat dit beteken, is dat daar ’n geleidelike en trapsgewyse oorgang weg van steenkool moet wees, terwyl daar verseker word dat so ’n uitfasering nie die maatskaplike en ekonomiese welstand van ontwikkelende lande benadeel nie, veral as daar in ag geneem word dat ons steeds volop steenkoolreserwes in Suid-Afrika het. As ons môre sou wakker word en sê geen steenkool nie, dink net hoe die ekonomie van provinsies soos Mpumalanga en Limpopo verwoes sou word.  

“Die Europese Kommissie – die uitvoerende been van die EU – het net onlangs, in Februarie 2022, besluit om kernenergie en natuurlike gas ’n groen etiket onder sy taksonomie te gee. Europa se taksonomie is sy klassifikasiestelsel om ‘omgewingsvolhoubare ekonomiese aktiwiteite’ vir beleggers, beleidmakers en maatskappye te definieer. Hierdie amptelike opinie van die EU is geldig omdat dit befondsing vir projekte beïnvloed namate die streek klimaatsverandering hanteer. Dit lyk dus of daar ’n blink toekoms is vir nuwe kernkrag wat befondsing van ’n nuwe projek betref, ten minste in die EU-streek.”

• Hoe beskou jy die toekoms van kernkrag in Suid-Afrika en die wêreld?

“Die toekoms van kernkrag lyk goed, maar dit sal innoverende befondsingsbenaderings vereis, aangesien regerings nie op hulle eie die risiko’s wat met kernkragprojekte verband hou, kan dra nie.  Dit sal regerings bankrot maak as ons nie ander rolspelers in staat stel om in te kom en in die vorm van vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor in kernprojekte te belê nie. In Suid-Afrika – veral met die enorme energiesekerheidskwessies wat ons oor die afgelope maande ervaar het – kan daar nie geargumenteer word dat kernkrag nie oor die medium tot lang termyn ’n blywende oplossing vir ons elektrisiteitsbehoeftes kan verskaf nie.

“As ’n mens daaraan dink dat nuwe aanlegte tot 80 jaar lank in bedryf kan bly, beteken dit dat ’n omsigtige belegging in ’n gebalanseerde energiemengsel, met kernkrag ’n stewige deel daarvan, energiekwessies vir toekomstige geslagte kan oplos en ekonomiese groei kan bevorder.  Daar bly egter voorwaardes aan al hierdie dinge verbonde, soos die vestiging van ’n gesonde raamwerk vir vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor om die projekte te finansier, ’n sterk regulatoriese raamwerk vir kernkrag, wat ons gelukkig al het, meer beleggings in vaardigheidsontwikkeling vir beide die bedryf en instandhouding van kernkragaanlegte, en ’n sterk plaaslike deelname van bedrywe vir lokaliseringsdoeleindes. Ons moet ook deursigtige en kostedoeltreffende verkrygingsprosesse in plek hê sodat die publiek daarby kan inkoop.”

...

Dr Bismark Tyobeka

Submitted on Wed, 09/14/2022 - 12:27