Doen nou aansoek om in 2022 by die NWU te studeer

Aan die begin van elke jaar skarrel duisende studente van regoor die land rond om plek by die verskeie instellings vir hoër onderrig te soek. Deur die vorige jaar al betyds aansoek te doen wanneer die aansoeke oopmaak, kan studente en hulle ouers seker maak dat hulle hierdie onnodige stres vermy.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het gedurende 2020 meer as 100 000 aansoeke ontvang van voornemende studente wat in 2021 hier wou studeer. Met slegs 10 400 plekke vir voornemende eerstejaar-kontakstudente beskikbaar, is dit belangrik dat hierdie studente betyds aansoek doen.

Aanlyn aansoeke om in 2022 aan die NWU te studeer, is sedert 15 April 2021 oop.  Keuringskursusse  sal op 31 Julie 2021 sluit en nie-keuringskursusse sal op 30 September 2021 sluit.

As gevolg van Covid-19-inperkingsregulasies sal die universiteit geen fisiese ope dae aanbied nie. Daar sal in die loop van Mei ’n virtuele Ope Dag en ’n aantal studentelewe-webinaars gehou word. 
Die aansoekproses

Al die kursusse wat by die NWU beskikbaar is, kan op die webwerf by gevind word. Toegang is gratis.  Voornemende studente wat onseker is van die kwalifikasie wat hulle wil verwerf, kan die NWU se Belangstellingsindeks gebruik om hulle te help om ’n kursus te vind wat met hulle belangstellings ooreenstem.

“Die NWU is sewende op die ranglys van universiteite in die land en in die top-4,7% van die beste universiteite in die wêreld. Die universiteit ontvang jaarliks ’n groot aantal aansoeke, en voornemende studente word aangemoedig om so gou as moontlik aansoek te doen om te verseker dat hulle aansoeke geëvalueer word en hulle vir studie in 2022 oorweeg word,” sê Jean Stidworthy, die waarnemende direkteur van die Departement Bemarking en Studentewerwing.

Sodra hulle hulle aansoeke indien, ontvang studente ’n SMS ter bevestiging. Formele kommunikasie met betrekking tot hulle toelatingstatus sal binne twee of drie weke nadat die NWU hulle graad 12-uitslae ontvang het, per e-pos aan hulle gestuur word.

Jean sê dat dit nie die einde van die pad is vir voornemende studente wat nie voldoen aan die vereistes om te studeer nie. Hulle kan óf graad 12 oorskryf, óf oorweeg om die UNIVPREP-program te volg, wat hulle vir hulle formele kwalifikasie sal voorberei.

Voornemende studente word aangemoedig om die NWU op sosiale media te volg en om gedurig vir bywerkings op die uitkyk te wees.

Vir meer inligting of enige navrae met betrekking tot voorgraadse aansoeke kan voornemende studente of ouers 018 285 4320 skakel of ’n e-pos stuur aan applicationsug@nwu.ac.za.

Submitted on Mon, 05/03/2021 - 09:42