Diversiteit in musiekopvoeding by internasionale konferensie bespreek

Die Skool vir Musiek aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die navorsingsnisarea Musiekkuns in Suid-Afrika: Hulpbronne en Toepassings (MASARA) het onlangs die sestiende konferensie oor Kulturele Diversiteit in Musiekopvoeding (CDIME) onder leierskap van prof Albi Odendaal aangebied.

Die tweejaarlikse internasionale konferensie het van 9 tot 11 Oktober by die Waterfront Breakwater Lodge in Kaapstad plaasgevind. Dit het ’n platform verskaf vir die uitruil van praktyke en navorsing wat met kulturele diversiteit in musiekopvoeding verband hou.

Die tema hierdie jaar was ekologieë en diversiteite, wat die deelnemers uitgenooi het om diversiteit in musiekopvoeding te oorweeg met behulp van teorieë en idees wat uit ekologiese denke spruit. Dit het die volgende ingesluit, maar is nie daartoe beperk nie:

· Die verwantskap tussen ekologiese volhoubaarheid, die klimaatskrisis, musiekopvoeding en kulturele diversiteit.

· Kulturele, maatskaplike, ekonomiese, tegnologiese of klank-ekologie wat met kulturele diversiteit in musiekopvoeding verband hou.

· Stelsels en verhoudings in, ná` of buite musiekopvoedingsituasies wat kulturele diversiteit koester of beperk.

· Beliggaamde stelsels van denke of praktyk soos dit met kulturele diversiteit in musiekopvoeding verband hou.

· Kolonialiteit, dekolonialiteit of postkolonialiteit en kulturele diversiteit.

· Wyses waarop klaskamers, skole, skoolstelsels, opleiding van onderwysers, beleide of kurrikulums as ekologies verstaan kan word, en hoe sulke ekologieë met kulturele diversiteit in musiekopvoeding verband hou.

Agt-en-twintig aanbieders van agt verskillende lande het die konferensie bygewoon, insluitende vyf navorsers wat by MASARA geaffilieer is. Die navorsers het prof Liesl van der Merwe, prof Mignon van Vreden en dr Janelize Morelli ingesluit. Twee buitengewone navorsers wat met MASARA verbind word, dr Urvi Drummond en dr Debra Joubert, het ook hulle werk aangebied.

Daarbenewens is die insiggewende referaat getiteld “Understanding the Affordances and Limitations of an Aesthetic of Attention for Transformative Music Education in South Africa” deur dr Janelize Morelli aangebied. Die opwindende navorsing oor “Creating and Teaching ‘Green Songs’ for Sustainability: Tuning in to Student Voices in Music Education” deur prof Mignon van Vreden het gevolg.

Die omvattende analitiese referaat getiteld “Understanding the Elements that Inhibit Joyful Experiences in Music Education Situations: An Integrative Review” is gesamentlik deur dr Debra Joubert en prof Liesel van der Merwe geskryf.

Dr Alibhe Kenny, medeprofessor in Musiekopvoeding en Ierse navorsingspryswenner, was die hoofspreker en het ’n aanbieding gedoen oor die akkumulasie van agt jaar se navorsing oor musiekopvoeding in die ontvangsentrums vir migrante in Duitsland en Ierland.

Volgens dr Kenny ervaar migrante en vlugtelinge moeilike omstandighede in hierdie ontvangsentrums, waar hulle vryheid deur regeringsbeleide beperk en ingeperk word. Verveling is dikwels die vernaamste ervaring van hierdie migrante, aangesien alle inisiatief van hulle af weggeneem word.

Sy het deur intensionele en gereelde musikale interaksie die maniere gedokumenteer waarop musiek migrante help om die beperkte ruimtes te hanteer waarin hulle moet leef.

Die volgende byeenkoms van die CDIME sal in 2025 in Limerick, Ierland gehou word.

...

Van die afgevaardigdes wat die 16de konferensie oor Kulturele Diversiteit in Musiekopvoeding wat onlangs gehou is, bygewoon het.

Submitted on Mon, 10/23/2023 - 11:29