Dít is hoekom toerisme in die Wes-Kaap koning kraai

  • Deur te verseker dat toeriste veilig voel – en veilig is – is een van die vernaamste redes vir Kaapstad en die Wes-Kaap se sukses as ʼn toerismebestemming.
  • Dit sal ander stede en streke baat om Kaapstad en die Wes-Kaap se toersime-plan na te volg.
  • Plaaslike regerings en toerisme-owerhede moet saam met die privaatsektor werk want ʼn florerende toerismesektor lei nie net tot werkskepping nie, maar het ook verskeie natuurbewaring-voordele.  

Veiligheid, ʼn daadwerklike samewerkingspoging tussen verskeie rolspelers, toeganklikheid, en nogmaals veiligheid. Dít is volgens die Noordwes-Universiteit (NWU) se navorsingseenheid TREES (Tourism Research in Economics, Environs and Society) van die vernaamste geelwortels wat toeriste lok en ook hoekom Kaapstad en die Wes-Kaap tans as ʼn toerismebestemming floreer.

“Kaapstad doen drie dinge reg. Eerstens is hulle proaktief in die manier waarop hulle toerisme in die stad en in die provinsie bestuur. Kaapstad se toerismesektor maak van verskeie platforms gebruik om potensiële toeriste te bereik en hulle fokus ook op die uitbou van die stad as ʼn handelsmerk en bevorder die bestemming as ʼn geheel. Die sukses daarvan word gesien in die manier waarop die privaat en openbare sektor saamwerk om die toerismesektor na ’n volgende vlak te neem. Daar is ook ’n  sterk fokus op die skep van werkgeleenthede in die toerismesektor,” verduidelik prof Elmarie Slabbert, direkteur van TREES.

“Tweedens is daar die kwessie van veiligheid. Soos enige groot stad het die streek sy uitdagings, maar dit bied oor die algemeen ’n veilige omgewing vir toeriste. Die diverse produkverskeidenheid van Kaapstad en die streek voorsien ook in die behoeftes van beide plaaslike en internasionale toeriste. Dit sluit in die natuurskoon, avontuurtoerismegeleenthede, die ryk, diverse kulturele erfenis van die streek wat tot ’n unieke mengsel van tradisies, kuns, musiek, en kos gelei het, historiese bestemmings, wyntoerisme en die Kaapstad Internasionale Lughawe, wat die stad doeltreffend per lug verbind. Hierdie toeganklikheid maak dit vir nasionale en internasionale toeriste gerieflik om die streek te besoek. Daarbenewens het die gebied goed ontwikkelde infrastruktuur en akkommodasie, asook verskeie feeste en gebeurtenisse,” sê prof Slabbert.

“Derdens is Kaapstad ʼn ikoniese stad wat nasionaal en internasionaal groot aansien geniet en reeds verskeie toerismepryse ingepalm het, soos om vir sewe agtereenvolgende jaar die Britse publikasie, The Telegraph, se Greatest City in the World-toekenning te wen.”

Volgens prof Peet van der Merwe, volhoubaarheidstoerismekenner verbonde aan TREES, kan ander stede en streke beslis daarby baat om hulle toerismekersie by Kaapstad en die Wes-Kaap te gaan opsteek. 

“Die sukses wat hierdie gebied tans geniet, bewys weereens dat die groei van ’n toerismebestemming ’n geïntegreerde en gesamentlike poging verg waar die privaat en openbare sektor saamwerk om konnektiwiteit, infrastruktuur, veiligheid en toerismeprodukaanbiedings te bevorder, asook om die pragtige natuurskoon en vriendelike mense te benut om doelbewus toeriste te lok. Dit is ook belangrik om die bestemming deurentyd te bemark en te sorg dat hulle gereeld deur toeriste raakgesien word. Dis nie een organisasie of persoon wat al die krediet vir hierdie suksesverhaal verdien nie, dit is ʼn groeppoging,” sê prof Slabbert.

Die span by TREES stem ook saam in hulle advies oor hoe om die Suid-Afrikaanse-toerismesektor ʼn hupstoot te gee.

“Die eerste en belangrikste aspek is veiligheid. Toeriste reis ver en spandeer ’n aansienlike bedrag geld wanneer hulle reis; daarom benodig hulle ’n sekere mate van versekering dat hulle veilig sal wees. In die wêreld waarin ons vandag leef en die manier waarop tegnologie ons verbind, is konnektiwiteit van die uiterste belang. Dit, tesame met toegang tot ’n gemaklike reiservaring, kan nie onderskat word nie, want dit skep ʼn gevoel van veiligheid. Die padinfrastruktuur in die Wes-Kaap is baie goed en dit dra by tot ʼn genotvolle reiservaring vir toeriste,” aldus Prof Slabbert.

Die NWU is daartoe verbind om te help om die Verenigde Nasies se volhoubaarheidsontwikkelingsdoelwitte te bereik, en navorsing om die land se toerismesektor te bevorder, soos dit deur TREES uitgevoer word, en wat tot verhoogde werkskepping asook verskeie natuurbewaringsinisiatiewe lei, is ʼn onlosmaaklike deel daarvan.

Maar, waarsku prof Van der Merwe, dan moet die gesaghebbendste rolspelers hulle huis in orde hê: “Die vermoë van plaaslike regerings en toerisme-owerhede is van kritieke belang; hulle moet hulle kantore funksioneel en doeltreffend bedryf . Die toerismesektor kan ʼn groot bydrae tot die ekonomiese groei van hierdie land lewer en dit is ’n geleentheid wat benut moet word. Die sleutel lê egter in ’n geïntegreerde poging, en hier stel Kaapstad die voorbeeld.”

Prof Elmarie Slabbert

Prof Peet van der Merwe

Submitted on Thu, 09/28/2023 - 14:14