Dit is hoekom jy sukkel om te slaap

As jy in die vroeë ure van die oggend op enige sosialemediaplatform inskakel, sal jy heel waarskynlik ’n klomp mense aanlyn aantref. Sedert die land ’n paar weke gelede as gevolg van Covid-19 die staat van inperking betree het, sukkel Suid-Afrikaners om aan die slaap te raak.

Prof Pieter Kruger, ’n konsultant- kliniese sielkundige en direkteur van die NWU se Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP), verduidelik vir ons waarom soveel mense aan slaaploosheid ly.

Volgens prof Kruger is dit geen verrassing dat mense sukkel om te slaap met al die onsekerheid, spanning en angs wat met Covid-19 verband hou nie. Ons breine hanteer nie onsekerheid baie goed nie.

Hy sê dat ’n gedeelte van die brein genaamd die dorsale agterste gesinguleerde korteks (dACC) in tye van onsekerheid die onsekerheid as ’n fout of ’n gaping registreer wat vir die brein sê om besonder waaksaam te wees omdat iets verkeerd kan wees.

Hy voeg by dat, vanuit ’n evolusionêre perspektief, die onsekerheid beteken dat daar dreigende gevaar in die omgewing kan wees, wat op sy beurt weer die brein na ’n selfbeskermingsmodus oorskakel. Wanneer dit gebeur, aktiveer dit die brein se emosionele verwerkingsentrum (die limbiese stelsel), wat kortisol (die streshormoon) en adrenalien afskei, wat die liggaam voorberei om te veg of te vlug.

“Die basiese doel van hierdie stowwe wat in die liggaam afgeskei word, is om ons wakker en gereed te hou om potensiële bedreigings te hanteer. Gevolglik meng dit in met ons vermoë om aan die slaap te raak of aan die slaap te bly.”

Die gevolge van te min slaap

Prof Kruger sê dat die gebrek aan slaap beduidende biochemiese en sielkundige gevolge kan hê. Een van die meer bekende korttermyngevolge van slaapdeprivasie is vergeetagtigheid. “As jy nie genoeg slaap kry nie, beïnvloed dit nie net jou werkende geheue nie, maar dit beïnvloed ook die mens se aandagstelsel, wat jou help om te fokus en te verstaan wat voor jou aan die gang is.”

Hy voeg by dat die gebrek aan slaap ook ’n mens se kognitiewe verwerkingspoed en regulering van jou gemoedstoestand beïnvloed, en slaapdeprivasie kan op die lang termyn ’n invloed op die testosteroonvlakke van mans en viriliteit by vroue uitoefen. Hy sê dat dit belangrik is om te probeer om op ’n gereelde basis ’n gemiddeld van sewe of agt uur per nag se slaap in te kry.

Prof Kruger se wenke om gedurende die staat van inperking beter te slaap

  1. Leer hoe om angs te hanteer en dit te ontlont: kry vir jou ’n goeie selfhelpboek of praat met ’n sielkundige.
  2. Handhaaf goeie slaaphigiëne en ’n aandroetine: moenie nuus lees of kyk voordat jy bed toe gaan nie – dit maak jou onseker en skep angs.
  3. Vermy blouspektrumlig voordat jy bed toe gaan: selfone, tablette en skootrekenaars versprei hoë vlakke van blouspektrumlig. Blootstelling aan hierdie tipe lig kul jou brein om te dink dat dit nog dag is.
  4. Struktureer jou dag: probeer om elke aand min of meer op dieselfde tyd te gaan slaap en dieselfde tyd in die oggend op te staan.
  5. Bly fisiek aktief: probeer om elke uur vir 3 tot 5 minute te stap.
  6. Moenie paniekerig raak as jy nie kan slaap nie: selfs al lê jy net in die bed, is jou liggaam en brein steeds besig om te herstel.

 

 

 

Submitted on Wed, 05/20/2020 - 09:24