Dit gaan alles oor die ouderdom – van wyn en ook van mense

Hoe ouer wynliefhebbers is, hoe droër verkies hulle hulle wyn, en hoe langer neem dit hulle om dit wat hulle gekoop het, te drink.

Dit is twee van die bevindings van ’n onlangse studie oor die wynvoorkeure van verskillende ouderdomsgroepe wat die navorsingseenheid TREES (Toerismenavorsing in Ekonomie, die Omgewing en die Samelewing) onderneem het.

In die studie, “That old saying about wine and age: identifying South African age-cohort preferences”, het die navorsingspan van prof Martinette Kruger en dr Adam Viljoen bevind dat ouderdom ’n belangrike rol in die voorkeure van wynverbruikers speel.  

Hulle doel was om hierdie verskille in verbruik vanuit die perspektief van ’n ontwikkelende land met ’n oorwegend jonger bevolking te identifiseer.

Martinette en Adam het die volgende kategorieë van plaaslike wyndrinkers voorgestel:

  • Die basiese, begrotingsbewuste Gen Z’s (18–24 jaar), wat oor hulle beeld bekommerd is;
  • Wyndrinkers wat wil eksperimenteer en hulle wyn wil geniet, die  Jong Gen Y-ers (25–34 jaar);
  • Aspirasievolle en doelgerigte wyndrinkers, Ouer Gen Y-ers (35–44 jaar);
  • Ritueel-georiënteerde, entoesiastiese en opvallende wyndrinkers, Gen X-ers (45–54 jaar); en
  • Konserwatiewe en ervare wyndrinkers wat waarde soek, Baby Boomers (55 jaar en ouer).

Martinette en Adam sê die resultate het baie praktiese implikasies vir bemarking en kan wynprodusente, kleinhandelaars en belanghebbers by wyntoerisme help om die verkope en verbruik van wyn onder die verskillende ouderdomsgroepe van wynverbruikers in Suid-Afrika te vergroot.

Meer oor die studie

Die studie is een van die omvattendste nasionale opnames wat onder Suid-Afrikaanse wynverbruikers gedoen is.

Die navorsing het gefokus op 20 997 Suid-Afrikaanse wynverbruikers wat in 2020 ’n aanlyn vraelys as deel van die “TOPS at SPAR Wine Show’s GREAT BIG Wine Survey” ingevul het.

Die resultate wat verkry is, per ouderdomsgroep

Gen Z’s verkies basiese en hoofsaaklik soet, drinkbare, begrotingsvriendelike wyne. Hulle hou van rooi-, rosé- en witwyne wat toekennings ontvang het en wat interessante etikette het, aangesien hulle meen dat dit hulle beeld sal bevorder.

Hulle gebruik sosiale media, aanlyn media en ook wat beïnvloeders en beroemdes oor wyn te sê het om besluite te neem. Hulle is geneig om die wyn wat hulle koop op dieselfde dag of binne ’n paar dae te drink.

Die Jong Gen Y-ers verkies ook rooi-, wit- en roséwyn, maar wel ’n droër variant daarvan. Hulle word deur die wynetikette en vorige besoeke aan wynplase beïnvloed.

Hulle stel belang in aanbevole wynparing en proeërs se notas – dit maak hulle avontuurlik om met  verskillende kombinasies te eksperimenteer. Hulle is pryssensitief, tog lyk dit of hulle op grond van hulle voorkeurstyl gewillig is om meer te bestee. Hulle koop gewoonlik hulle wyn en drink dit binne ’n week of twee.

Die Ouer Gen Y-ers verkies toenemend droër wyne, hoofsaaklik rooiwyne en ’n paar wit variëteite.  Hulle is minder pryssensitief, tog bly proeërs se notas en die variëteit van die druif belangrik.  

Hulle is meer geneig om wyne te koop wat toekennings gewen het, wat beteken dat hulle wyne van ’n “goeie gehalte” soek. Hulle is geneig om hulle wyn stadiger te drink, gewoonlik binne ’n maand nadat hulle dit gekoop het.  

Die Gen X-ers het ’n duidelike voorkeur vir droë wyne, veral rooi en wit. Hulle is meer bewus van die variëteit van die wyn wat hulle drink en is geneig om wyn te koop van wynkelders wat hulle besoek het.

Notas van proeërs en wynproduksiestreke word belangrike aspekte van die etiket. Hulle soek inligting oor wyne en is minder bekommerd oor hoe die wyn bemark word, waarskynlik as gevolg van hulle ervaring en bepaalde voorkeur vir variëteite en wingerde. Hulle koop en verbruik wyn teen groter volumes en drink dit binne ’n maand.

Die Baby Boomers verkies droër wyne met rooi as die grootste keuse, tog is daar ’n opmerklike toename in die gebruik van witwyn. Hulle hou van ’n meer omvattende reeks wynvariëteite en koop wyn by wynkelders of wynplase wat hulle voorheen besoek het. Hulle het gewoonlik vaste gewoontes en maak eerder staat op hulle eie ervaring bo die van ander.

Dit lyk of hulle voorkeur gee aan die bekendheid van hulle wynkoopgedrag.  Die variëteit van die druif en die wynprodusent of wingerd is belangrike faktore wat hulle koopgedrag bepaal.

Baby Boomers koop gewoonlik groter volumes wyn en dit neem ’n maand of langer om dit te drink. Daar is ’n mate van pryssensitiwiteit, waarskynlik as gevolg van ervaring en die kennis dat “goeie” wyn nie noodwendig duur moet wees nie.

 

 

Nog ’n paar feite

  • Volgens die studie is Suid-Afrika een van die oudste wynproduseringslande in die “nuwe wêreld”, en is wyn van groot ekonomiese en kulturele belang vir party mense.
     
  • Die land is die sewende grootste wynproduserende land ter wêreld, met 546 wynkelders.
     
  • Daar is 22 wynroetes, met Route 62 wat die langste wynroete in die wêreld is.
     
  • Suid-Afrika is verantwoordelik vir 60% van die wynverbruik in Afrika, maar word grootliks as ’n uitvoergeoriënteerde land beskou.

.......

Prof Martinette Kruger

 

.......

Dr Adam Viljoen

Submitted on Wed, 06/29/2022 - 14:47