Digitale aanbieding voorspel ’n opwindende nuwe pad vir die NWU se Ondernemende Vroue-program

Eienaars van klein besighede is op baie dinge voorbereid, maar die Covid-19-pandemie laat ons nie net onseker oor hoe om in hierdie vreemde tye te oorleef nie, maar het ook ’n ongekende verskuiwing gebring in die manier waarop ons sake doen.

Entrepreneurs kan begin wonder hoe om relevant te bly vir hulle kliënte en hoe om voor te berei vir ’n postkrisiswêreld wat dalk baie anders kan lyk as waaraan ons gewoond is. Om as entrepreneur nuwe spronge te maak, kan stresvol wees, maar dit kan ook ’n tyd vir innovering en groei wees.  Daarmee in gedagte is die Noordwes-Universiteit (NWU) hard aan die werk om voort te gaan om ’n verskil in die lewens van entrepreneurs te maak.

Die jaarlikse Ondernemende Vroue-program is ’n voorbeeld hiervan. Dit is hierdie jaar die agtste keer dat hierdie entrepreneurskapprogram met sy groot impak deur die NWU se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (bhive EDC) aangebied word, en ten spyte van die uitdagings wat die pandemie meegebring het, gaan die program voort om vroue van regoor die universiteit se geografiese voetspoor te bemagtig.

’n Nuwe multimodale benadering

Volgens Leonie Greyling, senior bestuurder by Ondernemingsontwikkeling, is ’n hersiene model vir die aanbieding van die program ontwikkel, en dus sal ’n multimodale benadering voortaan gevolg word. Sy verduidelik dat ’n sterk gedigitaliseerde komponent geïnkorporeer sal word, en hoewel die kurrikulum grootliks onveranderd sal bly, sal die inhoud van die werkswinkels deur middel van ’n aanlyn platform gedeel word, terwyl kontakgeleenthede vir aanbiedings van deelnemers en netwerkingsessies gereserveer sal word. Daar word verwag dat die 2020-rondtes van die program – in die Vanderbijlpark, Mahikeng en Potchefstroom – gelyktydig van Junie tot Oktober sal loop.

Hoe kan ek vir ’n nuwe toekoms voorberei?

Hierdie kortleerprogram is pasgemaak vir vroulike kleinsake-eienaars en aspirant-entrepreneurs wat ondersteuning nodig het om die huidige uitdagende ekonomiese toestande te bestuur. Die volgende voorwaardes geld. Deelnemers moet:

  • Gewillig wees om hulle tot ’n multimodel-sakeontwikkelingsprogram met aanlyn leer- en kontaksessies te verbind.
  • In besit wees van ’n matrieksertifikaat.
  • ’n Goeie beheersing van die Engelse taal hê.
  • Rekenaarvaardig wees, met toegang tot die internet, e-pos en WhatsApp.

As jy gekeur word, is ’n programdeelnamefooi van R1 500 teen 15 Junie 2020 betaalbaar.

Hoe om in te skryf

Deelnemers moet ’n video met ’n sakevoorstel van hoogstens twee minute indien. Die videosnit moet die volgende insluit:

  • Naam en van
  • As jy reeds ’n sakeonderneming het, die tydperk wat dit aan die gang is
  • Die probleem wat jy deur middel van jou produk of diens wil oplos
  • Jou oplossing vir die voorgestelde probleem (jou waardeproposisie)
  • Die geleentheid (die gaping wat jy in die mark raaksien)
  • Jou unieke verkoopsvoorstel (wat is anders aan jou produk of diens)
  • Hoe jy verwag om by die program te baat

Die video moet deur middel van die volgende skakel aanlyn opgelaai word:
 https://nwu.padlet.org/leonie_greyling/n58vv2zt6k4o    

Die sperdatum vir indiening is 17 Mei om 12:00.

 

 

 

 

 

 

 

 

Submitted on Mon, 05/04/2020 - 13:13