Die Fakulteit Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is met reg trots op die sukses van sy nuwe groep nagraadse studente in die MuST-navorsingsnisarea (Meertalige Spraaktegnologie-navorsingsnisarea).
Al sewe meestersgraadstudente wat by MuST se 2019/2020-diepleerprogram aangesluit het, het op 30 Junie hulle grade ontvang, met vyf van hulle wat hul grade met onderskeiding verwerf het. Hulle is Dewald Krynauw, Jacques Beukes, Christiaan Myburgh, Nuette Heyns en Coenraad Mouton.
Die beduidendheid van hierdie prestasies lê in die feit dat hierdie nagraadse navorsingsprogram slegs drie en ’n half jaar oud is. Toe MuST in Januarie 2018 ná die afhandeling van die NWU se herstruktureringsproses by die Fakulteit Ingenieurswese aangesluit het, het dit geen nagraadse program gehad nie. Die laaste groep MuST-studente het in 2016 gegradueer, met PhD-studies wat in ’n ander fakulteit en in sy vorige program, meertalige spraaktegnologie vir tale met minder hulpbronne, geleë was.
Die nuwe MuST-navorsingsprogram fokus op diepleer: hierdie neurale netwerkgebaseerde strukture vorm ’n toenemend belangrike stel gereedskap in moderne masjienleer. Die program het met net twee studente begin: Arnold Pretorius, wat sy meestersgraad in 2020 verwerf het (ook met onderskeiding), en Tian Theunissen, wat sy PhD by die 2021-wintergradeplegtigheid sal ontvang. In die tweede jaar van die program het MuST ’n geloofsprong gemaak en die hele groep meestersgraadaansoekers op die kortlys aanvaar. Prof Marelie Davel, direkteur van MuST, verduidelik: “Die sewe finale kandidate het ons beïndruk – ons het nie geweet hoe om tussen hulle te kies nie! Ons was buitendien teen daardie tyd oortuig dat ons iets beet het, en ons moes ons kapasiteit uitbrei. Toe neem ons maar almal in.”
Die diepleerprogram sluit teoretiese sowel as toepassinggeoriënteerde studies in: die meestersgraadstudente wat onlangs gegradueer het, het twee studies geproduseer wat konvolusionele neuralenetwerkteorie ondersoek (Coenraad Mouton en Christiaan Myburgh), twee oor die interpreteerbaarheid van ruimteweermodelle (Dewald Krynauw en Jacques Beukes), twee toepassings vir spraakverwerking (Rhyno Strydom en Nuette Heyns), en ’n pasklaar oplossing vir ’n bedryfsvennoot (Dylan Lampbrecht). Studies het ook kodebasisse en publikasies opgelewer. Al die studente het hulle werk by konferensies aangebied, met die werk van drie van die studente wat gekies is vir insluiting in spesiale-uitgawe vaktydskrifte.
Twee van die studente wat gegradueer het, het gevoel dat daar geen nodigheid is om hulle navorsing te onderbreek nie, en gaan met hulle PhD-studies voort: Coen het na die MuST Hermanus-laboratorium geskuif en beplan om voort te gaan om op diepleerteorie te konsentreer. Sy doel is om ’n volwaardige navorser op hierdie gebied te word. Nuette het vir haar PhD by die NWU se Eenheid vir Tale en Letterkunde in die SA konteks ingeskryf. Sy gebruik masjienleertegnieke om aan kwantitatiewe transtekstualiteitopsporing te werk, wat die sambreelterm is vir die verskillende metodes waarmee teks hergebruik of aangehaal word, byvoorbeeld om huidige nuus- en wêreldgebeure met plasings op sosiale media te verbind.
Die diepleerprogram se doel is om studente voor te berei vir toekomstige loopbane wat baie meer buigsaamheid verg. Soos Dewald dit stel: “Die werk wat ek tans doen, het twee jaar gelede nie eers bestaan nie.” Hy werk tans as blokkettingontwikkelaar by die Telos-blokkettingkernspan. Hy ontwikkel ook DeFi-toeps (gedesentraliseerde finansies).
Jacques is ook deur die blokkettinggogga gebyt en werk saam met Dewald aan DeFi-toeps. Sy onmiddellike doel is om voort te gaan om sy blokkettingvaardighede te slyp, terwyl hy na ’n geleentheid soek om masjienleer by sy werk te inkorporeer. Hy hoop om die geleentheid te vind om te help om iets interessants en nuttigs te skep.
’n Ander meestersgraadstudent wat by die wêreld van DeFi gaan aansluit, is Rhyno, wat nou as junior ontwikkelaar van kwantitatiewe sagteware by Invictus Capital werk. Een van sy rolle sluit die skryf van logika vir algoritmiese verhandelingstrategieë in verskillende markte in. Hy wil ook graag sy loopbaan in DeFi uitbrei deur sy pasaangeleerde kennis in datawetenskap te gebruik om finansiële markte te ontleed. “Ek het my tyd by MuST baie verrykend gevind. Die navorsingsgroep beklemtoon helder denke en is oop vir die deel van idees. Hulle het my gehelp om ’n nuwe perspektief op dinge te kry, en ek het beslis ’n paar nuwe vriende langs die pad gemaak.”
Christiaan werk hoofsaaklik aan die ontwikkeling van enkelblad-webtoepassings en het lewendige stroming as ’n “passieprojek” aangepak. Hy dink na oor sy tyd as meestersgraadstudent: “MuST is vol passievolle mense wat nooit aarsel om jou uit te help en jou in die regte rigting te stuur nie. Ek is werklik dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om deel van so ’n simpatieke en gedrewe groep te wees.”
Dylan werk as masjienleeringenieur/sagtewareontwikkelaar aan taalmodelle om groot stukke teks te verstaan en te interpreteer. Hoewel hy diversiteit in sy werk verkies, voorsien hy dat hy sal aanhou om in die rigting van masjienleernavorsing en -ontwikkeling te beweeg.
MuST se eerste masjienleeralumnus, Arnold, werk sedert die begin van 2020 as datawetenskaplike by Saigen, ’n spraakontledingsonderneming waarvan ’n voormalige MuST-kollega ’n medestigter is.
***
Agtergrond
Proff Marelie Davel en Etienne Barnard het in 2018 ’n nuwe navorsingsprogram bekendgestel wat op diepleer fokus. Diep neurale netwerke (DNNe) het internasionaal toenemend die dryfveer agter deurbrake op gebiede soos rekenaarvisie, natuurliketaalverwerking en bio-informatika geword. Diepleermodelle is veral toepaslik wanneer komplekse verhoudings van groot, hoëdimensionele datastelle afgelei moet word. In spesifieke toepassingsgebiede kan hierdie stelsels menslike prestasie ewenaar en dit soms oortref, wat “smal kunsmatige intelligensie” al hoe meer ’n werklikheid maak. Hierdie suksesse het navorsing oor beter algoritmes, nuwe toepassings daarvan, en ’n beter begrip van DNNe geïnspireer.
Die MuST-diepleerprogram is gestig met die visie om ’n diepgaande begrip van die binnewerking van DNNe te verkry, en het bygedra tot ’n paar van die oop teoretiese vrae op hierdie gebied, en die ontwikkeling van jong navorsers wat die prestasie van hierdie modelle vir werklike toepassings van plaaslike belang kan optimaliseer.
Nuette, Dylan en Rhyno se studieleier was prof Etienne Barnard. Christiaan, Coenraad, Dewald en Jacques se studieleier was prof Marelie Davel, met Dewald en Jacques wat vir dr Stefan Lotz van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (SANSA) as medestudieleier gehad het.
Prof Marelie Davel met die meeste van die jongste MuST-gegradueerdes by haar intreelesing in 2019. Van links is Rhyno Strydom, Jacques Beukes, Nuette Heyns, Cristiaan Myburgh, Prof Davel, Tian Theunissen, Arnold Pretorius, Dewald Krynauw en Coenraad Mouton. Invoegsel: Dylan Lamprecht.