Die viering van Wêreld Intellektuele Eiendom Dag by die Noordwes-Universiteit

deur Vukosi Mathale

Die Noordwes-Universiteit (NWU) was onlangs die gasheer vir die jaarlikse viering van Wêreld Intellektuele Eiendom Dag (WIPD) in samewerking met verskeie sleutelvennote – insluitende die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC), die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DTIC), die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI), die Bestuurskantoor vir Nasionale Intellektuele Eiendom (NIPMO), die Tegnologie Innovasie Agentskap (TIA), en die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap (SEDA). Hierdie gebeurtenis is op 25 April op die Mahikengkampus en op 26 April op die Potchefstroomkampus gehou en het gedien as platform om ’n bewustheid te kweek oor die betekenis van intellektuele-eiendomsregte (IE-regte) in die vorming van ons daaglikse lewens.

WIPD, wat elke jaar op 26 April gevier word, beklemtoon die kritieke rol van patente, outeursregte, handelsmerke en ontwerpe om innovasie en kreatiwiteit te bevorder.   Hierdie jaar se tema “IE en die SDG’s: Ons bou ons gedeelde toekoms met innovasie en kreatiwiteit”, stem ooreen met die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s), wat ’n raamwerk verskaf om wêreldwye uitdagings te hanteer en volhoubare ontwikkeling te kweek. Die fokus op die integrasie van IE met die SDG’s beklemtoon die onmisbare rol van intellektuele eiendom in die bevordering van vooruitgang in die samelewing en dwingende wêreldwye kwessies te hanteer.

In die woorde van prof Jeffrey Mphahlele, adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovasie aan die NWU: “Intellektuele eiendom is die hoeksteen van innovasie, bevorder vooruitgang en vorm ons gesamentlike toekoms.  Ons plavei die pad deur samewerking en respek vir IE-regte om ’n voorspoediger en meer volhoubare wêreld te verkry.”

Die NWU het tydens die WIPD-viering ’n nuwe opvoedkundige kaartspeletjie genaamd Prosper bekend gestel om WIPD in 2024 te vier. Die speletjie, wat geskep is deur die Bunt-broers (dr Byron Bunt en dr Lance Bunt), wat by die NWU werk, handel oor die gebruik van intellektuele eiendom om vir mense iets oor die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te leer.

Prosper bied verskillende uitdagings wat verband hou met wyses om die samelewing beter te maak, en verskaf ’n onderhoudende en interaktiewe manier om iets oor die SDG’s te leer en die rol van intellektuele eiendom om dit te kan bereik.  Prosper sal op die Merlot- en OER Africa-webwerwe beskikbaar wees, en onderwysers op enige plek in staat stel om dit in ’n opvoedkundige opset af te laai, te druk en te gebruik.  Dit sal die verspreiding van kennis oor intellektuele eiendom en volhoubare ontwikkeling bevorder.

Die NWU en sy vennote het kragte saamgesnoer om innovasie, kreatiwiteit en volhoubare ontwikkeling deur middel van intellektuele-eiendomsregte te bevorder. Deur ’n bewustheid te versprei, respek aan te moedig en IE-regte te beveilig, het die gebeurtenis die belangrikheid beklemtoon om ’n sterk IE-ekostelsel vir ekonomiese groei en die bevordering van die samelewing te koester.

Die WIPD-viering by die NWU het gesprekke en samewerking aan die gang gesit, en pogings laat onstaan om innovasie en kreatiwiteit vir ’n meer volhoubare toekoms daar te stel. In ’n wêreld wat vinnig verander, is dit noodsaaklik om IE-regte te beskerm en te bevorder om ’n beter wêreld vir almal te bou.

Besoek Technology Transfer and Innovation Support (TTIS)

Wêreld Intellektuele Eiendom Dag se Changemakers-galery

 

Prof Jeffrey Mphahlele

Prof Jeffrey Mphahlele, adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovasie aan die NWU.

World IP Team

Organisasiespan van die WIPD

Eagi

NWU-gelukbringer: Eagi

 

Submitted on Mon, 05/06/2024 - 09:49