Die vervanging van antibiotika in hoendervoer met fulviensuur kan boere en verbruikers tevrede stel

Hoenderboere in minderbevoorregte gemeenskappe sukkel om voerkoste laag te hou terwyl hulle in die toenemende verbruikersvraag moet voorsien. ’n Meestersgraadstudent van die NWU het ’n potensiële wen-wen-oplossing ondersoek.

Keamogetswe Constance Mokubung het onlangs haar meestersgraad in dierewetenskap onder leiding van prof Upenyu Marume verwerf. Haar navorsing het gefokus op die effek wat die byvoeging van fulviensuur in plaas van antibiotiese groeipromotante by braaikuikens se dieet het, en het spesifiek die potensiële impak daarvan op groeiprestasie, gesondheid en vleisgehalte ondersoek. 

Fulviensuur is ’n chemiese verbinding wat ontstaan uit die ontbinding van plantmateriaal deur grondmikroörganismes oor lang tydperke. Hierdie natuurlike proses vind dikwels oor eeue plaas en lei tot die voorkoms van fulviensuur in klei, sand, bergrots en modder. Die insluiting daarvan by die dieet van braaikuikens hou met beter diereprestasie verband, veral ten opsigte van die bevordering van groei, immuniteit en voerdoeltreffendheid, terwyl die voorkoms van infeksies terselfdertyd verminder word. ’n Omvattende evaluering van die effek daarvan op braaikuikens is egter nog nie voorheen uitgevoer nie.

Keamogetswe het ’n bydrae gelewer om hierdie gaping te vul deur ’n uitvoerige studie oor die impak van fulviensuur op die dieet van braaikuikens te doen. “Die motivering vir hierdie ondersoek het voortgespruit uit ’n nuuskierigheid oor fulviensuur. Dit is ’n algemene komponent van dierevoer, en tog is die potensiële uitwerking daarvan op braaikuikens nog nie deeglik ondersoek nie,” sê sy. 

Navorsingsbevindings toon potensiaal

Die resultate van hierdie studie demonstreer dat die eksperimentele diëte wat met fulviensuur teen 0,03% aangevul word, groeiprestasie, voedingstatus en algemene gesondheid by braaikuikens verbeter het. Die studie het voorts bevind dat die insluiting van fulviensuur by hulle dieet nie die welstand van die voëls negatief beïnvloed het nie, soos dit deur metings van hulle latente vermoë om te lê, vere te ontwikkel en van hulle gang getoon is.

Braaikuikens wat die kontroledieet gekry het, het die hoogste vermoë getoon om te staan, gevolg deur dié wat fulviensuur-diëte gekry het. 

Die insluiting van fulviensuur by hulle dieet het oor die algemeen die vleisgehalte van die braaikuikens verbeter. Dit het in besonder tot ’n toename in totale poli-onversadigde vetsure gelei, wat ’n voordelige impak op menslike gesondheid het.

Hierdie voordele is nie ten koste van die benuttingsdoeltreffendheid van voedingstowwe en die gesondheidstatus van die diere nie, maar het eerder dieselfde effek as konvensionele groeipromotante soos antibiotika. 

Dit kan goeie nuus vir hoenderboere sowel as vir verbruikers wees, sê Keamogetswe. 

Om fulviensuur by die dieet van braaikuikens te voeg, is ’n volhoubare, kostedoeltreffende, veilige en omgewingsvriendelike manier om vleis en vleisneweprodukte van ’n hoë gehalte wat natuurlik geproduseer is, te verskaf.

 Haar studiebevindings toon dat kleinskaalse en kommersiële boere fulviensuur as ’n natuurlike voerbymiddel kan gebruik. Dit kan met veiligheid teen 0,03% bygevoeg word met ’n beduidende verbetering in die prestasie, gesondheidstatus, vleisgehalte en beenontwikkeling van braaikuikens.

Keamogetswe Constance Mokubung.

Submitted on Wed, 10/09/2024 - 08:31