Hoewel sosiale media en die inligtingseeu die wonderlike effek het om inligting vryelik beskikbaar te maak, het dit skynbaar ook veroorsaak dat mense se vertroue in kundiges, gesaghebbendes, spesialiste en navorsers getaan het.
Dr Yolandi Coetzer, dosent in Filosofie by die Skool vir Filosofie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), skryf in ’n meningstuk dat hierdie kommerwekkende tendens deur ’n verskeidenheid bewegings – en veral die een wat teen inentings gekant is (die sogenaamde anti-vaxxers) – gedemonstreer word.
“As ’n mens die kommentaar oor die Covid-19-entstof op enige sosialemediaplasing lees, toon dit ongelukkig dat Suid-Afrikaners nie immuun is teen die verdagmaking van entstowwe nie – ’n tendens wat voorheen tot Amerika beperk was,” sê sy.
“Dit laat my dink aan die werk van die Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer (1900 - 2002). Gadamer het beweer dat ons almal vorurteil – vooroordele of voorveronderstellings – het. Anders as die eietydse begrip van vooroordeel, meen Gadamer dat vooroordele neutraal is.”
Dr Coetzer skryf dat die punt van filosofiese ondersoeke gevolglik is om vas te stel watter van hierdie vooroordele geldig is.
“Om te illustreer: ons het die vooroordeel of voorveronderstelling dat ’n appel ’n eetbare vrug is, of dat ons by ’n stopstraat moet stilhou. Dit word as geldige vooroordele beskou. Daar is ander vooroordele wat ongeldig is, soos dat vroue vir dieselfde werk minder as mans betaal moet word, of rassevooroordele.
“Dit sal geweldig lank neem om elke liewe vooroordeel wat ons het so te oorweeg, dus het Gadamer voorgestel dat ons gesaghebbendes moet ‘rehabiliteer’. Dit beteken dat ons gesaghebbendes se meerdere kennis moet aanvaar, naamlik dat die ander persoon ’n beter oordeel en insig as jyself het en dat sy oordeel daarom voorkeur behoort te geniet – met ander woorde dat dit beter as jou eie is (Truth and Method, 280–281).”
Dr Coetzer sê dit bring haar by die anti-vaxxers wat sê “jy weet nie wat in die entstof is nie”, terwyl hulle hul derde McDonalds-burger van die week verslind. Diegene wat sê dat dit “groot farmaseutiese maatskappye is wat probeer geldmaak”, terwyl hulle verwag dat hulle vir hul eie daaglikse arbeid betaal word.
“Diegene wat wetenskap wantrou, maar elke stukkie tegnologie wat hulle besit, vertrou om te doen wat beloof is – hulle motor, hulle foon, hulle skootrekenaar. Diegene wat die Covid-19-entstof verdag maak, maar wat self nog nooit pokke of polio gehad het nie, en wat danksy inentings wat hulle as babas gekry het hul aanval van masels of waterpokkies as kinders oorleef het. Die belaglikheid van hulle redenasie is ooglopend.”
Sy sê dat mense moontlik vergeet het – of bloot nie weet nie – hoe verskriklik hierdie siektes in werklikheid is – hoeveel miljoene mense aan pokke dood is, hoe aaklig waterpokkies en masels kan wees as jy nie ingeënt is nie. “Ons vergeet hoe erg polio was, en hoeveel kinders as gevolg van die poliovirus gesterf het of permanent gestremd gelaat is.
“Hoewel dit in die mode kan wees om wetenskap te ontken, en om jou ‘eie navorsing te doen’, verstaan tog asseblief dat, tensy jy ’n PhD in virologie, biochemie, molekulêre biologie, mikrobiologie of enige ander verwante gebied het, jy nie verstaan hoe entstowwe werk nie. Verstaan tog dat, tensy jy in ’n laboratorium werk, jy die eksperimente doen en jou bevindings aanteken, en daardie bevindings deur jou vakkundige eweknieë met dubbelblinde studies nagegaan word, jou werk op hulle hersiening gegrond word, en dit uiteindelik in ’n erkende vaktydskrif by ’n akademiese uitgewer gepubliseer word, jy nog glad nie ‘navorsing gedoen’ het nie.”
Sy sê dat die lees van ’n paar blogs, die kyk na ’n paar video’s en die luister na jou niggie nie dieselfde is as om vakkundige navorsing te doen nie. Daar is redes waarom jy na kundiges moet luister – hulle bestee jare daaraan om die hoogste moontlike kwalifikasie te behaal, jare waarin hulle dinge bestudeer waarvan jy niks weet nie en wat jy waarskynlik nie eers kan uitspreek nie.
“Jy vertrou die werktuigkundige as hy sê dat jou motor se pakstuk (‘gasket’) geblaas het, terwyl jy nie die wetenskaplike vertrou wat vir jou sê dat die entstof veilig is nie. Natuurlik ervaar sommige mense newe-effekte, maar enige stof kan ’n erge reaksie veroorsaak – sommige mense neem ’n Disprin en beland in die hospitaal met ’n erge allergiese reaksie. Beteken dit dat ons Disprin aan die mark moet onttrek?”
Dr Coetzer sê dis tyd dat ons gesaghebbendes rehabiliteer – dat ons verstaan dat wetenskaplikes probeer om lewens te red. “Hulle probeer jou help om te sien hoe jou kinders graadkry en om eendag met jou kleinkinders te speel.
“Hoewel dit goed is om die status quo te bevraagteken, die misbruik van mag te verwerp, en nie bloot te aanvaar wat vir jou opgedis word nie, is hierdie situasie nie een van daardie gevalle nie. Luister asseblief na die wetenskaplikes. Laat jouself inent.”
Luister na ʼn potgooi van dr Coetzer: https://echocast.fabrik.fm/r5Lwy096Z38MxL
Dr Yolandi Coetzer