Die verbetering van dienslewering in die openbare sektor is hierdie navorser se doelwit

Swak dienslewering is ’n probleem in Suid-Afrika, maar een akademikus by die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Costa Hofisi, doen iets daaromtrent. Met behulp van sy navorsingkundigheid gaan hy poog om ’n bydrae tot die verbetering van dienslewering in die openbare sektor te lewer. 

Sy navorsing fokus op die mate waartoe die openbare sektor daarin sal slaag om aan die burgers se eise te voldoen om die gehalte van en innovering ten opsigte van openbare dienste te verbeter.

Prof Hofisi, wat onlangs ’n C3-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang het, sê hy werk in vennootskap met ’n plaaslike owerheid in Suid-Afrika om ’n innoverende mobiele toepassing te ontwikkel vir kommunikasie oor dienslewering tussen alle inwoners in daardie munisipaliteit en die amptenare wat vir die verskaffing van dienste verantwoordelik is.

“Hierdie toepassing vir rapportering sal alle inwoners, jonk en oud, in staat stel om maklik met die plaaslike owerheid oor enige diensleweringskwessie te kommunikeer. Dit sal e-deelname moontlik maak vir inwoners oor bestuursake wat hulle raak, en op daardie manier burgerlike betrokkenheid en oop en deelnemende bestuur aanmoedig.”

Hy het reeds die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding tussen die NWU en die munisipaliteit geïnisieer.

Meer as 400 keer aangehaal

Prof Hofisi word as ’n gesaghebbende oor innovasie in die openbare sektor beskou, en daar was die afgelope agt jaar 470 aanhalings uit sy gepubliseerde werk, wat gelykstaan aan ’n h-indeks van 8 en ’n i10-indeks van 7.

Sy voortgesette en toekomstige navorsing oor innovasie in openbare dienslewering sal op drie fronte fokus: teoretiese, beleids- en metodologiese sake.

“Innovasie in die openbare sektor ly tans aan teoretiese onderontwikkeling en ’n behoefte bestaan dus vir die teoretisering van innovasie in die openbare sektor. Hierdie teoretisering behoort ’n wêreldwye skaal en impak te hê, en moenie tot die Globale Suide beperk te word nie. In die lig van die debat oor die dekolonisasie van die kurrikulum is dit vir my as navorser belangrik om innovasie vanuit ’n Afrosentriese perspektief te konseptualiseer en te teoretiseer.”

Op die beleidsfront is die groot aantal betogings oor dienslewering in Suid-Afrika ’n aanduiding van die mislukking van die regering regoor nasionale, provinsiale en plaaslike gebiede om dienste doeltreffend en effektief aan sy inwoners te lewer. Prof Hofisi is vol vertroue dat die mobiele toepassing wat hy gaan help ontwikkel dienslewering sal verbeter deur kommunikasie te bevorder.

Op die metodologiese front toon ’n omvattende oorsig van bestaande literatuur dat daar meer kruisnasionale vergelykende studies uitgevoer moet word, veral studies wat innovasies in die openbare sektor in die Globale Noorde en die Globale Suide vergelyk, sê prof Hofisi.

“’n Beduidende gedeelte van die literatuur dui aan dat kwalitatiewe studies tans oorheers en dat daar dus ’n wêreldwye behoefte aan kwantitatiewe studies oor innovasie in die openbare sektor bestaan. My navorsing sal dus meer gerig word op kwantitatiewe benaderings om hierdie gaping in die literatuur te verklein.”

Oor die navorser

Prof Costa Hofisi is ʼn C3- NNS-gegradeerde navorser wat in 2011 met ’n PhD in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare gegradueer het en het ’n meestersgraad in Publieke Administrasie. Hy is tans as ’n stigter-navorsingsdirekteur en professor van Afrosentriese Bestuur van Openbare Sake, ’n navorsingsentiteit aan die NWU.

Prof Costa Hofisi van die navorsingsentiteit Afrosentriese Bestuur van Openbare Sake.

Submitted on Thu, 03/02/2023 - 11:46