Die uitdrukking van die self by die NWU Galery

Sandile Mahlangu

Die grootste kunsgeskenk word tans by die Noordwes-Universiteit (NWU) aangetref. Die NWU Galery is die gasheer vir ’n kunsuitstalling met twee temas. Die O Mang? O Tswa Kae? O Ya Kae-uitstalling, met Boitumelo Makousu as kurator, en Kasi: Leitlho La Sechaba (Oog van die mense), met Mahlomola Maroba as kurator.

Albei uitstallings loop van 1 Julie tot 1 Augustus 2022.

Die O Mang? O Tswa Kae? O ya Kae?-uitstalling word by die NWU Galery op die Potchefstroomkampus aangebied en fokus op individue wat na hulleself terugkeer en verstaan wie hulle is, waar hulle vandaan kom en waarheen hulle op pad is. Die belangrikheid van introspeksie word ook beklemtoon.

“Dit is vir individue belangrik om genees te word, hulleself te herbelyn en hulle eie stories en erfenis te skep,” sê Boitumelo. Verskillende individue ervaar verskillende lewensreise en die uitstalling moedig ’n mens dus aan om na jou eie innerlike self te kyk.

Die drie kunstenaars wat aan die uitstalling deelneem, is Ras Silas Motse, Khotso Mahloma en Lesego Moncho, wat almal hulle eie unieke persoonlike stories en herkoms het. Hulle pragtige kuns stel jou in staat om saam met hulle hulle persoonlike reis in ’n geometriese volgorde mee te maak.   

The Kasi: Leitlho la Sechaba-uitstalling word by die NWU Botaniese Tuin, ook op die Potchefstroomkampus, aangebied. Dit fokus op die alledaagse lewe van Suid-Afrikaanse burgers wat in ’n township leef. Volgens Mahlomola is die beste manier om ’n township-storie te vertel om mense wat eerstehandse ervaring daarvan het, toe te laat om dit te vertel.

“Dit is belangrik om te praat oor die daaglikse lewe en oor die uitdagings wat mense in townships, en ook queer mense, ervaar.”

Die uitstalling fokus nie net op die stryd in ’n township nie, maar laat ’n mens ook toe om ’n begrip te vorm van mense wat in ’n township leef, en om raakpunte te kry sodat die ongebalanseerde sosio-ekonomiese faktore reggestel kan word.

Die drie kunstenaars wat aan hierdie uitstalling deelneem, is Andile Bhala, Sebastian Legoete en Ronney Saaed. Die kunstenaars vertel hulle eerstehandse ervarings oor townships op ’n realistiese manier en laat ’n mens verstaan wat die lewe in ’n township werklik behels.  

Die twee uitstallings stel verskillende individue in die samelewing in staat om oor hulleself na te dink, en te praat oor die onuitgesproke dialoë wat Suid-Afrikaners op ’n daaglikse basis ervaar. Hulle omhels ook diversiteit en die belangrikheid daarvan in die Suid-Afrikaanse ruimte deur seksualiteit, erfenis en spiritualiteit uit te beeld.

 

Submitted on Fri, 07/22/2022 - 09:14