Die stryd teen GBV

Suid-Afrika word elke paar maande geskud deur ’n storie van geslagsgebaseerde geweld (GBV) wat die meeste van ons verstom laat. Die liggaam van ’n finalejaarstudent in die Regte is onlangs in ’n verminkte toestand in ’n plastieksak buite Oos-Londen gevind. Haar seksmaat is vir die beweerde misdaad in hegtenis geneem. Hierdie insident het skokgolwe regdeur die land gestuur en weer eens die behoefte aan die voorkoming van en opvoeding oor GBV beklemtoon.

As gevolg van ’n toename in GBV-insidente by instellings vir hoër onderrig het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) aan alle universiteite regoor die land ’n beleidsraamwerk gestuur om hulle te help om beleide te skep wat GBV by hulle instellings sal hanteer.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs sy GBV-beleid aanvaar en goedgekeur met die doel om ’n omgewing vir personeel en studente te skep om hulle oor GBV op en van die kampus af in te lig, hulle te ondersteun en dit te moniteer.

Hierdie beleid sal alle genderidentiteite en seksuele oriënterings, insluitende LGBTQIA+-individue en gemarginaliseerde minderheidsgroepe, teen alle vorms van GBV, seksuele diskriminasie, geweld en treitering beskerm.

Van slagoffer tot oorwinnaar

Die NWU is vasbeslote om die gruwel van GBV in die instelling hok te slaan. Mense wat geteister is, word aangemoedig om daaroor te praat en ’n klag te lê sonder om vir vooroordeel of viktimisasie te vrees.

“Die universiteit sal ’n omvattende en uitgebreide benadering gebruik wat regverdig, billik, konsekwent, objektief, vertroulik en deursigtig is om klagtes van GBV te hanteer. Wanneer ’n klag by die relevante strukture van die Universiteit gelê word, sal toepaslike en spoedige stappe ingevolge hierdie beleid gedoen word,” sê Michelle Bownes, senior werknemerverhoudingespesialis by die NWU.

Alle gevalle van GBV sal op ’n wyse hanteer word wat kwessies in ag neem wat met gendersensitiwiteit, kulturele oortuigings of tradisies, taalvermoëns, seksuele oriëntering en gestremdheid verband hou.  Alle optrede oor GBV sal vertroulik gehou word en die privaatheid respekteer van die betrokkenes wie se vertroue, veiligheid, fisieke en sielkundige behoeftes prioriteit moet geniet.

Die beleid sal die relevante dissiplinêre beleide, praktyke en toepaslike reëls ten opsigte van werknemers en studente van die Universiteit volg. Diegene wat GBV oorleef het, sal ook psigososiale ondersteuning van die NWU se Werknemerswelstand- of Studentevoorligting en -ontwikkelingseenheid ontvang.

Die NWU-handelsmerk op of van die kampus af

Die GBV-kwessie in Suid-Afrika is op breekpunt, en personeel en studente moet mekaar en lede van die publiek op en van ons kampusse af respekteer en beskerm.

“As instelling verstaan ons dat die oomblik dat ons personeel en studente die perseel verlaat, hulle die handelsmerk-ambassadeurs van die Universiteit word. Die NWU verdra geen gevalle van GBV nie, en moedig al sy belanghebbers aan om die beleid te volg en daaraan gehoor te gee, selfs al is hulle nie op die kampus nie,” sê Michelle.

Hierdie beleid sal personeel en studente beskerm wat klagtes inbring teen mekaar, en eksterne belanghebbers – wat nie by die Universiteit studeer of werk nie – wat klagtes teen ’n NWU-personeellid of -student inbring.

 “Vir ons om ’n institusionele kultuur teen GBV te skep, moet alle werknemers en studente saamwerk. Ons doen ’n beroep op alle studente en personeel om hulle ondersteuning te belowe wanneer ons hierdie beleid implementeer en toepas,” sê Michelle.

Dr Sibusiso Chalufu, uitvoerende direkteur van Studentelewe, sê sy departement sal ’n aantal bewustheidsprojekte in samewerking met sleutelbelanghebbers en studenteleiers regoor die leierskapspektrum loods. Hulle beplan ook om saam met ander instellings in hoër sowel as basiese onderwys saam te werk .

Die stryd teen GBV is ’n voortgaande proses, en teen die agtergrond van die droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek, wil die Universiteit ook voortgaan om sy personeel, studente en lede van die publiek oor GBV op te voed.

Submitted on Tue, 09/14/2021 - 12:17