Die skuif na aangepaste vlak 2 is positief, maar die ekonomie is nog nie uit die moeilikheid nie

President Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die verskuiwing van Suid-Afrika na aangepaste vlak 2 van die inperking is positief vir die ekonomie, waarvan die vooruitsig egter steeds verdere versterking en die bou van vertroue nodig het.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), het die aankondiging verwelkom wat op 12 September gemaak is om na ’n minder beperkende en aangepaste vlak 2-inperking te beweeg.

“Hoewel die onlangse groeisyfers van die bruto binnelandse produk (BBP) beter is as wat verwag is, en daar wye verwagtings is dat dit die ekonomie weer op koers plaas om hierdie jaar tot ’n 4,5%–5%-groeikoers te herstel, is die ekonomie nog glad nie uit die moeilikheid nie.”

Hy beklemtoon dat die derde golf van die pandemie ook nog nie verby is nie, en dat die belangrikheid van die inentingsprogram steeds voorop staan.

“Hierdie ekonomiese omsigtigheid is nodig, aangesien daar wyd verwag word dat Suid-Afrika se groeiprestasie in die derde kwartaal steeds die finansiële gevolge van die burgerlike onrus en geweld in Julie sal dra, en onlangse hoëfrekwensiedata rakende sakevertroue en vervaardigingsproduksie is reeds baie negatief.”

Volgens prof Parsons sal die ekonomiese groei in die derde kwartaal van 2021 die grootste gevolge van die Julie-gebeure dra.

“Hoe meer ‘inperkingvry’ die ekonomie kan raak, hoe meer kan dit help om daardie ekonomiese verliese te help versag.”

Hy sê dat deur voort te gaan om die ekonomie oop te maak namate die omstandighede dit toelaat, veral vir die sakesektore wat die swaarste deur die inperkings getref is, die ekonomie se herstelvermoë versterk sal word.

“Dit is dan baie waarskynliker dat die hoogs positiewe groeiverwagtings vir die jaar as geheel bereik sal word. Hoewel daar ongetwyfeld steeds onsekerhede rakende die toekomstige verloop van die virus is, moet Suid-Afrika nou so ver as moontlik korttermyn- ekonomiese en sake-aktiwiteit bevorder, asook die vernaamste strukturele struikelblokke uit die weg ruim wat steeds in die pad van toekomstige volgehoue arbeidsryke groei is.”

Submitted on Mon, 09/13/2021 - 10:32