Die QS-ranglys plaas NWU-vakgroepe in die boonste groepering wêreldwyd

Die Noordwes-Universiteit (NWU) skitter steeds op internasionale ranglyste. Die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings vir vakgroepe plaas vier van die NWU se vakgroepe in die top-850 wêreldwyd, met een van hulle in die 301-tot-350-kategorie. Die vakgroepe is landbou, omgewingswetenskappe, fisika en medisyne. QS het hulle ranglys op 12 Maart 2025 gepubliseer.

Hoewel die NWU nog nie ’n mediese skool het nie, word vakke aangebied wat binne die medisynekategorie val. Daar word in die vooruitsig gestel dat die NWU Mediese Skool studente vanaf 2028 sal inskryf.

Die 2025 QS World University Rankings by Subject plaas die NWU in die 301-tot-350-kategorie vir landbou en bosbou. Hierdie vakgroep was in 2024 in dieselfde kategorie. Omgewingswetenskappe en fisika is onderskeidelik in die 501-tot-550- en 551-tot-600-kategorie. QS het die NWU se medisyne-vakgroep in die 701-tot-850-kategorie geplaas.

Volgens QS is hierdie jaar se QS World University Rankings by Subject die agentskap se grootste tot nog toe, met meer instellings as ooit tevore wat op die ranglys is. Hulle het in 2024 1 559 instellings ingesluit, en ranglyste vir 55 vakke in vyf breë vakgebiede opgestel. Daar is hierdie jaar 171 bykomende instellings.

QS het vyf aanwysers gebruik om ’n plek op die ranglys te bepaal. Dit was akademiese reputasie; werkgewerreputasie; aanhalings per artikel; die h-indeks (meting van die stabiliteit van die impak en gehalte van die werk wat deur die instelling se wetenskaplikes en vakkundiges gepubliseer is); en die Internasionale Navorsingsnetwerk (IRN) (die meting van die effektiwiteit van die vestiging van stabiele navorsingsamewerkings in al die breë vakgebiede).

Dit is nie die eerste keer dat die NWU op die QS-ranglys uitblink nie. Sedert 2023 het die NWU deurgaans ’n vak in die top-400-prestasiegroep op die ranglys.

Volgens prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, is die vakgroepranglyste internasionale erkenning van die wonderlike werk wat die NWU se akademici en navorsers doen.

Om meer oor die NWU se prestasie op die verskillende internasionale ranglyste uit te vind, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings, of meer oor die QS World University Rankings by Subject uit te vind, besoek: https://www.topuniversities.com/subject-rankings.

Submitted on Fri, 03/14/2025 - 10:43