Die oorlog in Oekraïne: ’n duur keerpunt

Bertie Jacobs

Die oorlog in die Oekraïne woed voort. Duisende is dood, miljoene is ontheem en die wêreld wag op ’n onseker uitkoms. Die konflik het talle gevolge op baie verskillende fronte gehad, en die kontinent waarop dit plaasvind, is nie onaangeraak gelaat nie.

In ’n webinaar wat deur die Skool vir Owerheidstudies en lede van die Fokusarea vir Sosiale Transformasie in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) aangebied is, het plaaslike sowel as oorsese kundiges ’n paar van hierdie kwessies aangeraak. Die webinaar was getiteld A costly inflection point: European politics and business in the Russa-Ukraine war, en is deur dr Heinrich Matthee, ’n onafhanklike senior politieke ontleder en strategieraadgewer by die Hanse Universiteit van Toegepaste Wetenskappe in Groningen, Nederland aangebied.  

Die Rusland-Oekraïne-oorlog van 2022 verteenwoordig ’n keerpunt in Westerse politiek en besigheid, en die webinaar het die politieke en sekuriteitsdimensies van die oorlog en die reaksie van Westerse regerings bespreek, asook hoe Westerse besighede op die verskillende uitdagings reageer.

Matthee het die oorlog beskryf as die beduidendste ekonomiese gebeurtenis vir Europese besighede sedert die val van die sjah in Iran en voorspel dat energiepryse die hoogte gaan inskiet. Dit sal tot gevolg hê dat die verskillende dele van die voorsieningskanaal duurder gaan word en die regering sal moet kyk hoe om subsidies as teenvoeter te implementeer.

Die gesig van Europa het verander en sal in die afsienbare toekoms anders daar uitsien.

Submitted on Wed, 03/30/2022 - 14:36