Die NWU se wiele rol reeds vir die institusionele oudit

Voorbereidings is goed op dreef vir een van die belangrikste naderende gebeurtenisse in die akademiese lewe van die Noordwes-Universiteit (NWU): die eksterne institusionele oudit wat in Augustus 2022 uitgevoer sal word.

Die NWU se institusionele oudit is deel van ’n reeks oudits van hoër onderwysinstellings wat uitgevoer word onder die vaandel van die Raad op Hoër Onderwys (RHO), wat onlangs ’n aksieplan en breë raamwerk vir institusionele oudits aangekondig het.

Die universiteit het reeds die wiele aan die rol gesit vir die voorbereidings vir hierdie belangrike oudits. Die Kwaliteitbevorderingskantoor, wat die NWU se voorbereidings hanteer, het institusionele ouditwerkspanne saamgestel en het reeds aanvanklike induksie- en oriënteringsessies aangebied.
Dit is maar net die begin van die institusionele ouditproses. eish! het met dr Mariëtte Fourie, kwaliteitsbestuurder vir akademiese programme by die NWU se Kwaliteitbevorderingskantoor, oor die oudit gesels en oor wat dit vir die NWU beteken.

Waarom is die oudit belangrik?

“Institusionele oudits word gebruik om vas te stel wat die omvang van die instelling se vermoë is om geïntegreerde kwaliteitsbestuurstelsels en -prosesse te gebruik om die gehalte van sy leer en onderrig, navorsing en geïntegreerde betrokkenheid by die gemeenskap te verbeter,” sê Mariëtte.

’n Oudit neem ook in ag hoe die instelling se kwaliteitsbestuurstelsels die waarskynlikheid van studentesukses bevorder.

Wat is kwaliteit?

Die Hoëronderwys-kwaliteitskomitee (HOKK) van die RHO definieer kwaliteit in terme van drie oorkoepelende aandrywers.

Die eerste is hoe ’n universiteit se kernbesigheid van onderrig en leer, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid met sy visie, missie en strategiese doelwitte belyn is. Die tweede aandrywer is die waarde vir geld wat die universiteit aan sy studente en ander belanghebbers verskaf, en die derde een is die universiteit se kapasiteit vir en sukses met transformasie.  

Mariëtte sê die HOKK se klem op “gepastheid vir die doel” beteken dat die komitee die kwaliteit van ons akademiese programme en ons interne kwaliteitsbestuurstelsels sal evalueer, en hoe dit ’n bydrae tot transformatiewe doelwitte in die hoëronderwyskonteks lewer.

Mariëtte sê die institusionele ouditproses hou nóú verband met die RHO se Kwaliteitsversekeringsraamwerk, wat die transformasie van die kurrikulum, pedagogiese hernuwing en buigsaamheid van verskaffing beklemtoon.

Volgende stappe in die voorbereiding

As voorbereiding vir die oudit moet die NWU aan die einde van Mei 2022 ’n selfevalueringsverslag vir die RHO stuur. Dit sal gedurende Augustus 2022 deur ’n besoek van die RHO opgevolg word.

Om die beplanning, voorbereiding en uitvoering van hierdie ouditproses te bestuur, is ’n NWU-ouditbeheerkomitee saamgestel, met verskeie lede van die universiteitsbestuurskomitee (UBK) wat daarop dien. Die Kwaliteitbevorderingskantoor sal die institusionele ouditproses op bedryfsvlak bestuur.

“Die institusionele oudit sal na ons selfverslaggewing en bewysgebaseerde praktyke kyk om te evalueer hoe ons by sistematiese en voortgesette kwaliteitsversekering en bevorderingsprosesse betrokke is. Die ouditpaneel sal ook bepaal of hierdie prosesse vir ons konteks, asook ons missie en strategiese doelwitte, toepaslik is.”

Mariëtte sê die institusionele oudit sal ook die samehang en doeltreffendheid van die NWU se kwaliteitsversekering en bevorderingstelsels vir studentesukses evalueer. ’n Kritieke faktor wat in ag geneem sal word, is die wyse waarop die NWU vanaf vroeg in 2020 op die ontstaan van die Covid-19-pandemie reageer het.

Die NWU se wiele rol!

Benewens die samestelling van die werkspanne, sal die Kwaliteitbevorderingskantoor in September 2021 opleidingsessies hou, gevolg deur fasilitering- en ondersteuningsessies wat op die skryf van die selfevalueringsverslag sal fokus. Hulle sal regdeur Oktober 2021 tot April 2022 ’n portefeulje van bewyse saamstel.   

“Ons is verbind tot ’n benadering van vakkundigheid ten opsigte van kwaliteitsversekering,” sê Mariëtte. “Dit behels dat ’n toepaslike balans tussen kwaliteitsontwikkeling en aanspreeklikheid verkry moet word. Ons aanvaar ’n besinnende benadering om te toon hoe die NWU, in die konteks van differensiasie, transformasie, maatskaplike impak en maatskaplike geregtigheid, na studentesukses by ons instelling streef.”

Vir meer inligting, kontak Mariëtte by mariette.fourie@nwu.ac.za of kyk na hierdie video.

Submitted on Mon, 08/30/2021 - 14:58