Die NWU se kernnavorsing het ’n wêreldwye impak

Baanbrekerswerk, veeleisende jare van onderrig en leer en gespesialiseerde navorsing het oor die afgelope dekade en ’n half daartoe gelei dat die Noordwes-Universiteit (NWU) nou as Suid-Afrika se pionier op die gesofistikeerde gebied van kerningenieurswese beskryf word. Dit volg ná die onlangse voltooiing van die maksimum gekontrakteerde tydperk van 15 jaar vir ’n navorsingsleerstoel by die NWU se Fakulteit Ingenieurswese.

Die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARChI) is in 2006 deur die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gestig. Hierdie leerstoel was die enigste navorsingsleerstoel in Kerningenieurswese in Suid-Afrika, en die NWU is tans steeds die enigste universiteit in Suid-Afrika wat meestersgraad- en PhD-program in Kerningenieurswese en Ingenieurswese aanbied.

Volgens prof Jat du Toit, direkteur van die leerstoel, was die doel van die leerstoel om navorsing van wêreldgehalte uit te voer en ’n bydrae tot die opleiding van hoogs gekwalifiseerde kerningenieurs en wetenskaplikes te lewer om in die behoeftes van die land te voorsien. “Die SARChI-leerstoele word ontwerp om uitnemendheid in navorsing en innovasie te lok, met ’n langtermynbeleggingstrajek van tot 15 jaar. Die vernaamste klem van die leerstoel was op die nuwe generasie van ligtewaterreaktors en hoëtemperatuur- gasverkoelde reaktors met verbeterde veiligheids- en doeltreffendheidseienskappe. Die span het oor die afgelope 15 jaar gefokus op die rekenaarmodellering van die neutroniese gedrag, hitte-oordrag en fluïedvloei van die reaktors en die verwante stelsels. Oor hierdie tydperk het ons baie groot suksesse behaal,” sê hy trots.

Volgens ’n onlangse verslag van die NNS het die NWU se nagraadse program in Kerningenieurswese oor die afgelope drie vyfjaarsiklusse suksesvol gefunksioneer en daarin geslaag om die oorspronklike doelwit van “die ontwikkeling van mensekapitaal met ’n kernfokus deur onderrig en navorsing” te bereik.

’n Beduidende aantal navorsingsuitsette is voorts geproduseer in die vorm van publikasies en erkenning vir werk wat deur akademiese personeel en studente gedoen is en wat ’n bydrae tot die leerstoelprogram gelewer het. Die navorsing is uitgevoer omdat daar alle aanduidings is dat kernkrag ’n beduidende deel van die toekomstige kragvoorsieningsmengsel in Suid-Afrika sal uitmaak, en dus het die leerstoelprogram relevant en noodsaaklik gebly.

Van die begin van die tweede vyfjaarsiklus af het die leerstoel veral daarop gefokus om ’n navorsingskultuur daar te stel. Twee belangrike tegniese gebiede is geïdentifiseer. In die eerste plek sou die primêre fokus op die termiesevloeistelsel-modellering, en in die tweede plek op gevorderde brandstofsiklusse wees. Hierdie onderwerpe was ’n verlenging en uitbreiding van die basis wat tydens die eerste siklus gelê is.

Aan die begin van die derde vyfjaarsiklus het die fokus van die leerstoel voortgegaan om geheel en al op die vestiging van ’n navorsingskultuur gefokus. Tydens die duur van die leerstoel het nie minder nie as 157 studente hulle studies onder leiding van lede van die leerstoelspan voltooi. Dit het 40 MSc-studente, 99 MIng-studente en 18 PhD-studente ingesluit. Dit is goed om daarop te let dat van die 19 Suid-Afrikaners wat by die Kernnavorsings- en Konsultantegroep in Nederland in diens is, 11 hulle nagraadse studies in Kerningenieurswese aan die NWU voltooi het.

Die span van die leerstoel en die studente het ook 45 referate in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte en een eweknie-beoordeelde boekhoofstuk gepubliseer, 64 referate by eweknie-beoordeelde internasionale konferensies gelewer, en 25 referate by eweknie-beoordeelde nasionale konferensies aangebied. Lede van die leerstoel het ook agt hoofredes gelewer.

Die NNS se verslag sê voorts dat daar gesê kan word dat die leerstoel tot die uitbreiding van wetenskaplike navorsing – veral op die gebied van kernwetenskap en ingenieurswese – in Suid-Afrika bygedra het, en dat hulle daardeur ’n bydrae tot die verbetering van die stand van Suid-Afrika se internasionale navorsing in kernwetenskap en ingenieurswese gelewer het.

“Hoewel die leerstoel nie navorsers direk aanstel nie, het die aktiwiteite van die leerstoel en die navorsingsomgewing wat deur die leerstoel geskep is, bygedra tot die lok en aanstelling van uitstekende navorsers in die Nagraadse Skool vir Kernwetenskap en Ingenieurswese. Die leerstoel het hierdie kollegas in staat gestel om deur die studente vir wie hulle studieleiers was en hulle persoonlike navorsing hulle eie navorsingsloopbane uit te bou. Al die vaardighede wat aan studente oorgedra is, sou hulle ook in staat gestel het om nie net in ’n navorsingsomgewing te presteer nie, maar ook op enige ander gebied waar hulle analitiese vaardighede en vaardighede om probleme te identifiseer, te ontleed en op te los, van nut sal wees.”

Die leerstoel het ’n blywende impak op die akademiese projek van die universiteit gehad. Dit het ingesluit:

  • Die daarstelling van strategiese vennootskappe met maatskappye in die privaat sektor.

  • Die stigting van strategiese en blywende samewerkings met instellings in die openbare sektor.

  • As ’n indirekte gevolg van die aktiwiteite van die leerstoel, het die NWU en die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (NECSA) ’n formele langtermynvennootskap gevorm om gesamentlike navorsingsprojekte aan te pak.

  • ’n Aantal van NECSA se personeel is as buitengewone (mede-) professors by die NWU aangestel.

  • Die stigting van blywende verhoudings met internasionale organisasies soos die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA).

  • Die NWU het nasionale en buitelandse erkenning as ’n voorste universiteit vir kerningenieurswesenavorsing en -opleiding ontvang.

  • Nagraadse opleidingsmodules in kerningenieurswese is deur die aktiwiteite van die leerstoel ontwikkel. Hierdie modules word steeds by die universiteit onderrig.

  • Die IAEA het die NWU se meestersgraad in Kernwetenskap- en Tegnologiebestuur geakkrediteer. Die NWU was die vyfde universiteit in die wêreld wat hierdie erkenning verwerf het.

  • Die leerstoel het tot volhoubare programme in kerningenieurswese aan die NWU gelei.  ’n Kerngroep van agt navorsers bly daar, van wie die voltydse NWU-komponent ten volle deur die NWU befonds word.

“Die leerstoel wil die DWI en die NNS vir die befondsing van meer as R34 miljoen en vir die ondersteuning van die SARChI-leerstoel in Kerningenieurswese aan die Noordwes-Universiteit vir die afgelope 15 jaar bedank. Dit het daartoe gelei dat studente op meestersgraad- en doktorale vlak opgelei is, talle van wie voortgegaan het om waardevolle bydraes in die akademie en die bedryf te lewer. Daar kan gesê word dat die effek van die aktiwiteite van die leerstoel regoor die wêreld gevoel word. Ons het ons stempel afgedruk en ons het ’n nalatenskap,” het prof Du Toit afgesluit.

Die versiendheid van die DWI en die NNS in die daarstelling van leerstoele as ’n primêre wyse om die ontwikkeling van skaars vaardighede te bevorder en die Suid-Afrikaanse navorsingskundigheid te verbeter, is prysenswaardig.  Die belegging en uitkomste van die navorsingsleerstoel in Kerningenieurswese aan die NWU dien as illustrasie van hoe groot die impak is wat hierdie inisiatiewe het.

Submitted on Tue, 04/05/2022 - 13:33