Die NWU gaan Suid-Afrika se Olimpiese atlete geestelik voorberei

Die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) by die Noordwes-Universiteit (NWU) het van krag tot krag gegaan sedert dit onlangs tot stand gekom het. Hierdie jongste prestasie bevestig die feit dat dit ’n dinamiese sentrum is wat erns maak met hulle taak en op die hoogste vlak bedryf word.

Die CHHP het onlangs kragte saamgesnoer met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) om as die voorkeurvoorsiener van die Suid-Afrikaanse span hulle met hulle voorbereiding vir die 2021 Tokio Olimpiese en Paralimpiese Spele te ondersteun. Die CHHP sal geestesgesondheidsifting en adviesdienste aan alle atlete verskaf, met die fokus op die verbetering van hulle welstand en prestasie. Die proses sal gedurende die eerste week van Februarie begin en sal aan atlete die geleentheid gee om die program oor die volgende twee maande by te woon.

Die CHHP het by die NWU tot stand gekom nadat die kundigheid en ervaring van die Instituut vir Sielkunde en Welstand, die Instituut vir Sportwetenskap en Ontwikkeling, en die Instituut vir Biokinetika gekombineer is.

Die fokus van die CHHP is die verskaffing van omvattende, bewysgebaseerde dienste van gehalte op die gebied van gesondheid en menslike prestasie wat deur neurowetenskaplike en baanbrekertegnologie onderskryf word. Volgens prof Pieter Kruger, direkteur van die CHHP, sal van die dienste wat aangebied word hulp insluit om die meganika van angs te verstaan, asook waarom die brein met onsekerheid sukkel. “Dit is ’n onderwerp wat uiters geldig en relevant is in ons onseker, mid-pandemiese wêreld. Ons gaan ook die atlete help om die sielkundige uitdagings van Covid-19 te ondersoek wat hulle welstand en gevolglik hulle prestasie kan beïnvloed. Die beginsels wat ons gaan bespreek, sal baie relevant vir welstand en vir prestasie onder druk wees. Hoewel die vernaamste doelwit aanvanklik sal wees om vir die atlete bewysgebaseerde gereedskap en tegnieke te verskaf, veral om angs en onsekerheid te hanteer, is die vaardighede net so toepaslik in ’n hoëprestasie-kompetisieomgewing. Ons sal ook die toepassing van spesifieke funksionele gedrag bespreek om die atlete in moeilike tye te ondersteun,” sê prof Kruger.

Die atlete sal voor die aanvang van die program ’n kort psigometriese evaluering ondergaan. Dit sal die CHHP-klinici in staat stel om die programinhoud by die spesifieke behoeftes van ’n atleet aan te pas. Die CHHP sal nege werkswinkelprogramme aanbied om te verseker dat al 219 lede van die Olimpiese en Paralimpiese groep die geleentheid kry om die opleiding te deurloop. Die atlete sal ook bykomende hulpbronne en geleentheid vir verwysing ontvang vir dié individue wat voel dat hulle ná die program nog ondersteuning nodig het.

“Ons sien daarna uit om met SASKOK saam te werk en ons Olimpiese en Paralimpiese spanne te ondersteun om hulle prestasie by die Spele later in die jaar te maksimaliseer. Ons het ’n uitsonderlike span praktisyns regoor die spektrum van gesondheid en menslike prestasie, en ek vertrou dat ons in staat sal wees om ’n betekenisvolle verskil vir die atlete te maak,” sluit prof Kruger af.

 

Die naderende Olimpiese Spele is geskeduleer om in Julie vanjaar in Tokio, Japan plaas te vind.

........

Prof Pieter Kruger

 

 

Submitted on Tue, 02/02/2021 - 09:07