Daar is woorde wat ’n mens se tong laat knoop. Hulle verwar die vermoëns van die geleerdes; hulle onderskei die groentjies van die kundiges in spelkompetisies. Hulle verander selfs lewens. By die Noordwes-Universiteit (NWU) is een van hierdie woorde “farmako-epidemiologie”, en dit verwys na ’n gebied wat die gesondheid van die bevolking van Suider-Afrika beter maak.
Kom ons omskryf eers hierdie term. Farmako-epidemiologie is die studie van hoe medisyne gebruik word en wat die uitwerking daarvan op groot bevolkings is, en dit help ons verstaan wat die voordele, risiko’s en patrone van middelgebruik in ’n werklike opset is. Die belangrikheid hiervan in ’n Afrika-konteks kan nie genoeg beklemtoon word nie, veral ten opsigte van hierdie streek se epidemiologie, wat die wetenskap is wat ons help om te verstaan hoe dit waaraan ons blootgestel word en wat ons doen die algehele gesondheid van ’n samelewing raak.
Die Afrika-streek het ’n unieke epidemiologie met toenemend hoë koerse van aansteeklike en nie-oordraagbare siektes (NCD’s), insluitende kanker, diabetes, hipertensie en geestesiektes. Gesondheidsorgstelsels is gefragmenteerd. Openbare gesondheidsgeriewe regoor Afrika-lande is grootliks in ’n swak toestand, met ’n gebrek aan infrastruktuur vir die lewering van doeltreffende gesondheidsorg, en ’n algemene afwesigheid van inligtingstelsels met betrekking tot medikasie. “Afrika-lande ervaar verskillende uitdagings wat betref toegang tot medisyne, koste, doeltreffendheid van middels, morbiditeitspatrone en rasionele maniere om medisyne voor te skryf,” verduidelik prof Johanita Burger van die navorsingsentiteit Medisyneverbruik in Suid-Afrika (MUSA) by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe van die NWU.
Burger se navorsingsaktiwiteite fokus op farmako-epidemiologie, en ook op navorsing oor die benutting van middels en farmako-ekonomie, wat vakrigtings is waar die benutting, effek, koste en uitkomste van medisynes in werklike bevolkings ondersoek word. Hierdie dissiplines verskaf waardevolle getuienis wat die kompleksiteite en diversiteit van die gebied van gesondheidsorg weerspieël.
Burger sê: “Afrika dra die dubbele las van aansteeklik en chroniese siektes, wat dit noodsaaklik maak om te verseker dat almal toegang tot geskikte medisyne het. Die vasteland ervaar egter verskeie struikelblokke wat toegang tot medisyne verhinder, insluitende oormatige afhanklikheid van buitelandse lande vir medisyne, die verspreiding van nagemaakte en vervalste medisyne, ’n beperkte arbeidsmag in gesondheidsorg, die afwesigheid van volhoubare gesondheidsfinansieringsmeganismes, onvoldoende infrastruktuur en tegniese kundigheid, en onvoldoende beleggings in navorsing en ontwikkeling.”
Een van die maniere waarop die NWU dit hanteer, is deur sy verbintenis om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te bereik, waarvan SDG 3 (Goeie Gesondheid en Welstand) veral in hierdie konteks relevant is. Die doelwit van SDG 3 is om vir mense van alle ouderdomme gesonde lewens te verseker en hulle welstand te bevorder. MUSA het homself as ’n noodsaaklike rolspeler gevestig in die skepping van ’n volhoubare en veilige omgewing vir die gebruik van medisyne sodat ’n positiewe impak op die gesondheidsprofiel van die Suider-Afrikaanse gemeenskap gemaak kan word.
Burger verduidelik dat een manier om gesondheid in die streek positief om te keer, is om nuwe maniere te identifiseer, bevorder en daar te stel om medisynehulpbronne te bekom. “Ons moet pogings en inisiatiewe prioritiseer om toegang tot medisyne, infrastruktuur en gesondheidstelsels te verbeter.”
Deur relevante en uitstekende navorsing oor die toepaslike gebruik van medisyne in die openbare asook die privaat gesondheidsorgsektor in Suider-Afrika te doen, en deur die kapasiteit van hulpbronne in die veilige gebruik van medisyne met behulp van samewerkende vennootskappe en bemagtiging te bou, is MUSA besig om ’n betekenisvolle verskil te maak om toegang tot medisyne van gehalte te verseker.
MUSA wil verder die kennis van relevante teikengroepe deur middel van die lewering van innoverende produkte en oplossings uitbrei.
Die uitspraak van die woord mag dalk moeilik op die oor val en kan foneties uitdagend wees, maar dit is ongetwyfeld so dat “farmako-epidemiologie” deel behoort te vorm van elke gesprek oor medisyne in die soektog na volhoubare oplossings. ’n Makliker woord sê dit is ’n “wonderwerk”.