Die Noordwes-Universiteit ondersoek samewerking vir landbou-ingenieurswese

Die Enterprise African Regional Network (EARN) gaan steeds ’n groot faktor wees om jongmense na die landbousektor te lok, aangesien dit entrepreneurs uit Afrika toerus met die kennis en vaardighede wat vir die voedselproduserende bedryf nodig is. African Greeneurs van EARN het op Maandag 5 Februarie 2024 ’n besoek aan die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit (NWU) gebring om verdere samewerking oor ingenieursnavorsing in landbou te ondersoek.

Die NWU se Skool vir Bedryfsingenieurswese het die besoek gereël en hooggeplaastes van African Greeneurs is deur prof Rojanette Coetzee, medeprofessor en direkteur van die Eenheid vir Energie en Tegnologie, en bestuurder van die nagraadse program, verwelkom. Prof Henri Marais, die waarnemende direkteur van die Skool vir Bedryfsingenieurswese, was ook tydens die besoek teenwoordig.

Twee vierdejaarstudente in Bedryfsingenieurswese doen tans hulle finalejaarprojekte by African Greeneurs. Sonique Nagel se projek fokus op die ontwikkeling van die voedselverwerkingsaanleg vir EARN, terwyl Mea Thiebaut aan die wurmplaasprojek werk. Volgens Sonique beoog die voedselverwerkingsaanleg om verskillende voedsame, bekostigbare en toeganklike kruiegebaseerde voedselprodukte te produseer, en dit benut die gesondheidsvoordele van kruie soos moringa, suurlemoen verbena en kruisement. Mea glo dat die implementering van wurmboerdery nie net produksievermoë sal verhoog nie, maar ook organiese afval sal verminder, en so die gehalte van die kweekhuisboerdery by African Greeneurs verhoog. Sy illustreer verder dat om dringende kwessies soos aardverwarming, afvalbestuur en voedselsekerheid te hanteer, ’n inherente verantwoordelikheid van ingenieurs is.

Sonique sê dat om by African Greeneurs te werk ’n verrykende ervaring is, aangesien sy die gaping tussen teoretiese kennis en die praktiese toepassing daarvan kan verklein. “Die organisasie sorg vir ’n veilige en positiewe werksomgewing, en my blootstelling sluit interaksie met plaaslike en internasionale individue en maatskappye deur samewerking in.” Mea voeg by: “Ek is hartlik in die gemeenskap verwelkom, en ek is vinnig besig om deel van die familie te word. Die span is ongelooflik vriendelik, en ek verleen baie graag ook ’n helpende hand.”

Die samewerking tussen die twee partye sal vir die NWU se Bedryfsingenieurswese-navorsers voordelig wees deurdat dit vir hulle die geleentheid kan bied om netwerke in die wêreld daarbuite te bou.

Meer oor EARN

EARN het maniere ontwikkel om landbou opwindend te maak deur te verseker dat jongmense in poste geplaas word om geslagsgelykheid te bevorder terwyl transformasie in landbou nagejaag word.

Hulle het ’n plaas van 8,5 hektaar in Centurion, waar hulle varsprodukte in tonnels en onder ’n skadunet kweek, en dit is waar EARN die opleiding en ontwikkeling van jong agripreneurs verseker.

’n Verdere 100 hektaar is in Ekurhuleni geleë, waar snyblomme – hoofsaaklik krisante en ’n bietjie lisianthus – gekweek word. Daarbenewens het EARN ’n groot getal kweekhuise wat ten volle toegerus is en ses hektaar onder bewerking het, asook ’n pakhuis.

...

Submitted on Fri, 02/16/2024 - 09:18