Die Noordwes-Universiteit hou joernalistiek lewendig

Daar is ’n Engelse uitdrukking wat sê jy soek nie moeilikheid met ouens wat ink by die vat koop nie. Dit was dalk waar toe gedrukte koerante oor nuusverspreiding koning gekraai het. Noudat bandwydte egter hierdie vate vol ink vervang het, is daar nog ’n toekoms vir joernaliste in die tradisionele sin van die woord?

Hierdie kwessie is verder beklemtoon toe Media24 onlangs aangekondig het dat hulle oorweeg om Rapport, Beeld en City Press en die gedrukte weergawe van Soccer Laduma te staak, terwyl die digitale weergawes van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap ook nie meer sal bestaan nie. Die Daily Sun, City Press en Rapport sal voortaan net digitale publikasies wees. Hierdie scenario is nie uniek aan Media24 nie.   

Honderde poste is in die gedrang, en woordsmede is onseker of daar nog werkswinkels met smeltoonde en aambeelde gaan wees waar hulle hulle nering kan beoefen. Voornemende universiteitstudente wat naarstiglik na werksgeleenthede soek, kan dalk dink dat joernalistiek as beroep nie meer ’n lewensvatbare opsie is nie, maar prof Lida Holtzhausen, direkteur van die Skool vir Kommunisie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dit is ’n beroep wat nie afgeskryf moet word nie.

In teendeel: “As ’n mens na vandag se medialandskap kyk, kan jy dalk dink dat die dae van joernalistiek getel is. Daar is egter niks wat verder van die waarheid af is nie. Hoewel tegnologie die manier ontwrig het waarop nuus vandag gepubliseer word, is joernalistiek van goeie gehalte – hoe dit ook al gedeel word – vandag in 2024 in die wêreld en in Suid-Afrika belangriker as ooit tevore. Joernaliste en die bewakers van gehalte-inligting in ’n wêreld waarin daar ’n voortdurende stryd is teen waninligting en nuusvoosheid is geweldig, en soms – soos tydens die Covid-19-pandemie – selfs ’n kwessie van lewe en dood.    Trouens, die kritieke rol van tradisionele joernalistiek was tydens die Covid-19-pandemie op die voorgrond, aangesien navorsing getoon het dat mense na betroubare nuusorganisasies teruggekeer het.

“Gehaltejoernalistiek is in wese die bevestiging van inligting.  Dit is waarom ons glo dat joernaliste as professionele persone, saam met akademici en wetenskaplikes, die bewakers of beskermers van gehalte-inliging is.  Vir jongmense wat via sosialemediaplatforms netwerke vorm en so aan plaaslike en wêreldkwessies verbind is, beteken joernalistiek ’n loopbaan waarin kreatiewe individue wat ’n bewustheid vir maatskaplike, politieke en omgewingskwessies toon, die uitdagings van ons komplekse wêreld deur geskrewe teks in verskillende oudiovisuele formate en deur digitale bondige storievertelling kan oordra.”   

Die NWU in sy voormalige gedaante was in 1959 die eerste universiteit in Suid-Afrika om ’n graad in Joernalistiek aan te bied, en in die dekades daarna is dit aangepas om die immerontwikkelende medialandskap te weerspieël en daarvoor voorsiening te maak.  ’n Lewendige aanlyn platform, threestreamsmedia, verskaf aan studente die geleentheid om werklike stories intyds te skryf, waardevolle werkservaring op te doen, en hulle professionele portefeuljes op te bou. Die Skool vir Kommunikasie het goed gevestigde skakels met die joernalistiekbedryf, byvoorbeeld met die Nasionale Persklub en die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ).  Dit stel die Skool vir Kommunikasie in staat om deurlopend sy opleiding in joernalistiek aan te pas om die jongste tendense in die werkplek te weerspieël en om joernaliste te produseer wat hulle stempel op die bedryf kan afdruk.

Cornia Pretorius, dosent in Joernalistiek en Mediastudie by die NWU se Skool vir Kommunikasie, ’n voormalige gedruktemediajoernalis en redakteur van die Afrika-weergawe van University World News, sê dat die ouers van voornemende Joernalistiekstudente ingelig moet word oor wat die beroep behels: “Dit is nie maklik om ’n joernalis te wees nie, en dit sal ook nooit wees nie. Wees daarvan bewus dat joernalistiek nie meer bloot net die skryf van artikels behels nie. Skryfkuns bly ’n kernvaardigheid, maar die bedryf het ook navorsers, kontroleerders van feite, videograwe, sosialemediabestuurders, subredakteurs, webwerfbestuurders, dataspesialiste, grafiese ontwerpers, klankingenieurs en soekenjinoptimaliseringspesialiste nodig.    Al hierdie werk is noodsaaklik in die proses om gehaltejoernalistiek te produseer.

“Joernalistiek is ook ’n bedryf waar gegradueerdes vir hulleself kan werk en entrepreneurs kan word, hetsy hulle in Butterworth of Springbok woon. Die NWU het studentemediaplatforms – radio en aanlyn nuuspublikasies – waar voornemende joernaliste hulle vaardighede kan slyp. Die akademiese praktisyns wat Joernalistiek by die NWU onderrig, is ook altyd bereid om studente te skakel met geleenthede om werkskadu te doen deur van hulle professionele netwerke gebruik te maak.  Een van hierdie geleenthede wat die NWU en die Skool vir Kommunikasie geskep het, is deur ’n vennootskap te sluit met die organiseerders van die Momentum Aardklop-kunstefees, wat jaarliks in Potchefstroom aangebied word, en wat ’n groep studente gebruik om met die dekking van die fees te help. Die ‘Aardklop NWU Nuushonde’ is gewillig om hulle September/Oktober-vakansie op te offer om visuele en geskrewe inhoud oor platforms heen te skep – nog ’n geleentheid om werkservaring te verkry en hulle professionele portefeuljes te bou.    

“Studente wat die geleenthede aangryp wat tydens hulle studies oor hulle pad kom, en wat in vakansies werkskadu by joernaliste in die bedryf doen, stap in by werk wanneer hulle gegradueer het, aangesien hulle ervaring het.  Wat noodsaaklik is, is dat ouers hulle kinders aanmoedig om deurlopend na werksadvertensies te kyk om te sien wat die vereistes is, om joernaliste op sosiale media te volg, en om nuus te lees, om kritiese denkers te wees wat toegelaat word om vrae te vra en om werkskadu te doen. Die kern van die saak is dat daar werk en geleenthede is vir Joernalistiek-gegradueerdes wat die ekstra myl stap en nie net die heel basiese vereistes vir ’n graad vervul nie.”

Die twee van die Skool vir Kommunikasie beskryf ’n joernalis as “iemand met die deursettingsvermoë van ’n bulterriër en die sagmoedigheid van ’n Labrador. Joernalistiek is ’n ingesteldheid, ’n samesmelting van nuuskierigheid, kreatiwiteit, ’n uitgangspunt van probleemoplossing, harde werk, vasberadenheid en ’n wil om ’n openbare diens te lewer.” En so lank as wat daar nuus is om oor te berig, sal die NWU aanhou om die nuushonde en waghonde te produseer wat help om Suid-Afrika se demokrasie in stand te hou.

Lida

Prof Lida Holtzhausen

Cornia

Cornia Pretorius

Submitted on Wed, 07/17/2024 - 09:45