Die Noordwes-Universiteit is die tuiste van vakaanbiedings van ’n hoë gehalte

Wou jy al ooit ’n loopbaan in die mediese wetenskappe, openbare gesondheid of gasvryheid en toerisme volg? Dit is die vakaanbiedings by die Noordwes-Universiteit (NWU) wat volgens die jongste ranglys van die ShanghaiRanking Consultancy die hoogste gegradeer word.

Die verslag van ShanghaiRanking se Global Ranking of Academic Subjects (GRAS) bevestig dat die NWU ’n gereelde mededinger is wat vakaanbiedings van ’n hoë gehalte betref. 

Hulle identifiseer die NWU se vakaanbiedings wat die beste gegradeer word op die gebied van kliniese medisyne, openbare gesondheid en gasvryheid en toerismebestuur. Al drie gebiede is in die kategorie 101 tot 150 op die wêreldranglys.

Dit word gevolg deur veeartsenykunde (201 tot 300 op die wêreldranglys) en atmosferiese wetenskappe en opvoedkunde (albei in die 301- tot 400-kategorie).
’n Verskeidenheid objektiewe akademiese aanwysers en objektiewe derdepartydata word gebruik om die plekke op die ranglys te bepaal. Dit sluit navorsingsuitset, navorsingsinvloed, internasionale samewerking, navorsingsgehalte en internasionale akademiese toekennings in. Die GRAS-verslag is op 19 Julie gepubliseer.

Die ShanghaiRanking Consultancy het ook die NWU as een van nege Suid-Afrikaanse universiteite by hulle gesogte lys, die Academic Ranking of World Universities (ARWU), ingesluit, Hierdie lys is verlede jaar aangekondig. Hulle het die NWU vyfde in Suid-Afrika gelys, met ’n streeksgradering in die vyf- tot agt-groepering van ARWU se streeksgradering. Die NWU is ook in die 601- tot 700- internasionale kategorie geplaas.

Dr Bismark Tyobeka, visekanselier en hoof van die NWU, sê die ranglys plaas die NWU se beste vakgebiede in die kollig. “Hulle dui aan op watter gebiede ons uitblink en ’n bydrae lewer tot ons droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika en die wêreld te wees. Ons posisie ten opsigte van openbare gesondheid is veral belangrik, aangesien ons besig is om aan die stigting van ’n mediese skool te werk. Ek bedank al die personeel en ander belanghebbers wat voortgaan om dit moontlik te maak.”

Vir meer inligting oor die Shanghai-ranglys, besoek ShanghaiRanking..

Om meer oor die NWU se indrukwekkende prestasies in die internasionale en nasionale ranglyste te lees, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings.

Submitted on Thu, 07/28/2022 - 15:54