Die ITF se top- junior spelers gaan ’n skouspelagtige tennisgeleentheid aanbied

Die tennisbane op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan weer eens gasheer speel vir van die wêreld se top- junior spelers wanneer twee ITF J100-toernooie hulle eerste houe op 26 Februarie op die bane afslaan.

ITF is die akroniem vir die Internasionale Tennisfederasie, wat die beheerliggaam van wêreldtennis is.

Die toernooie, waarvan die laaste een op 8 Maart sal plaasvind, gaan weer eens die NWU se geriewe van wêreldgehalte tentoonstel en beklemtoon waarom die universiteit die voorkeurbestemming vir internasionale atlete en geleenthede is.

“Dit is ’n baie spesiale en gesogte toernooi. Die beste jong tennisspelers in die wêreld gaan hier wees, en gebeurtenisse soos hierdie lok altyd baie internasionale aandag. Die NWU is ook een van die min tenniskerns in die wêreld wat met hardebane, grasbane en rooikleibane kan spog. Dit maak ons uniek, en tesame met ons Sports Village en Hoëprestasie-instituut vir Sport, het ons alles wat die ITF vereis,” sê Jak Janse van Vuuren, die skakelpersoon vir die toernooi.

Volgens Riaan Venter, die NWU se hoofafrigter vir tennis, is dit ’n gebeurtenis wat nie misgeloop moet word nie: “As jy tennis van die hoogste gehalte wil geniet, is die J100 net wat jy soek. Ek wil ook my dankbaarheid uitspreek teenoor almal wat hierdie gebeurtenis ’n werklikheid gemaak het. Dit het ’n toegewyde poging geverg om so ’n geleentheid aan te bied, en ek is trots daarop. Om weer eens ’n ITF-geleentheid aan te bied, bevestig die volgehoue vertroue wat die tenniswêreld in ons vermoëns het.”

Submitted on Mon, 02/12/2024 - 14:19