Terwyl debatte oor die gehalte van die opleiding van onderwysers voortwoed, is die Noordwes-Universiteit (NWU) besig om te soek na oplossings soos gemengde werklikheid, wat sal verseker dat goed voorbereide en doeltreffende onderwysers die land se klaskamers betree.
Die onlangse bevindings van die 2021-PIRLS-studie (Progress in International Reading Literacy Study) dui aan dat 81% van Suid-Afrika se graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie, en het die debat oor die gehalte van die voorbereiding van voordiensonderwysers in die opvoedkundesektor weer laat opvlam.
Kritiek oor die opleiding van onderwysers het toegeneem nadat die uitslae van internasionale assesseringsinstrumente vir lees, soos PIRLS 2011, 2016 en 2021, wat op leesgeletterdheid van leerders fokus, gepubliseer is. Laasgenoemde studie is op die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie uitgevoer.
Volgens prof Carisma Nel, navorsingsprofessor by die Skool vir Tale in Onderwys, veroorsaak hierdie tipes studies openbare bekommernis oor leerders se uitkomste, en by implikasie oor die gehalte van hulle onderrig, wat vrae oor die gehalte van die opleiding van onderwysers laat.
“Hierdie vrae kan nie sommerso afgemaak word nie, aangesien daar wydverspreide internasionale instemming is oor hoe belangrik die gehalte van onderwysers is, met navorsing wat bewys dat daar ’n sterk verband tussen die doeltreffendheid van onderwysers en leerders se leeruitkomste is. Indien onderwysers nie voldoende vaardighede besit en nie aan leerders se behoeftes kan voldoen nie, is dit onwaarskynlik dat die gehalte en gelykheid van onderwys sal verbeter,” sê prof Nel.
Net so bring groter deelname in die onderwyssektor in Suid-Afrika uitdagings ten opsigte van toegang tot en sukses in hierdie sektor. Dit is noodsaaklik om vrae oor toegang tot en sukses in aanvanklike onderwyseropleiding te vra, veral ten opsigte van daardie studente wat in taal- en gestruktureerde leesgeletterdheid spesialiseer, aangesien talle studente wat graag hierdie sektor wil betree, nie noodwendig uit agtergronde kom wat hulle voldoende vir deelname voorberei het nie.
Volgens die Centre for Educational Testing for Access and Placement by die Universiteit van Kaapstad (2020), is studente wat by opvoedkundefakulteite aansoek doen, vergeleke met dié in enige fakulteit, onder dié wat akademies die swakste presteer. Daar is duidelik ’n groot gaping in die taalvaardighede van studente wat vir aanvanklike onderwysopleiding (AOO) inskryf en die vaardighede wat onderwysers nodig het om doeltreffend in skole op te tree.
“Onderwysers word dikwels beskou as die voorste vegters wat leesprobleme moet voorkom. Daar is egter tans nie net hopeloos te min onderwysers wat bekwaam genoeg is om wetenskaplike bewysgebaseerde leesonderrig te verskaf nie, maar heeltemal te veel van die programme wat die land se onderwysers moet voorberei, slaag nie daarin om aan hulle die nodige basis te verskaf om bekwaam te raak nie,” sê prof Nel.
Wat is die (moontlike) oplossing?
Een van die innoverings waarop die NWU fokus, is die gebruik van ’n gemengderealiteit-klaskameromgewing, waar voordiensonderwysers die geleentheid kry om met hoogs bekwame onderwysers saam te werk om ’n verskeidenheid van die noodsaaklike leespraktyke te oefen.
Volgens prof Nel is daar bewyse dat gemengderealiteit-simulering (mixed-reality simulation, MRS) toon dat pedagogiese bekwaamhede deur gestruktureerde gesimuleerde praktyk verbeter. Hierdie metode is al uitvoerig op militêre en mediese gebiede gebruik en begin nou om in die opvoedkundige opset ingevoer te word.
Wat behels MRS?
MRS behels scenario’s waar tegnologie gebruik word wat die werklike en virtuele wêrelde laat saamsmelt. “Die tegnologie wat tans vir studentonderwyser-simulerings vir ’n gemengderealiteit-omgewing gebruik word, benut ’n kombinasie van ’n omringende virtuele omgewing en mensgeleide in-die-oomblik-poppespel (in-the-moment puppetry), ’n model wat as human-in-the-loop (HITL) bekend staan. Die omringende eienskap van hierdie omgewings lei daartoe dat deelnemers hulle ongeloof op die agtergrond skuif, en dit laat voel asof hulle nie in ’n onwerklike omgewing is nie, maar dat hulle aan ’n werklike scenario deelneem,” verduidelik prof Nel.
Onderwysstudente in die MRS-omgewing lewer skynlesse, slyp hulle inhoudspesifieke onderrigpraktyke, ontwikkel hulle klaskamerbestuursvaardighede en oefen nuwe pedagogiese vaardighede in ’n veilige en beheerde omgewing waar hulle terugvoer en afrigting van mentoronderwysers asook van onderwysdosente ontvang. Die tegnologie stel studentonderwysers in staat om hulle onderrigpraktyke te ontwikkel voordat hulle met werklike leerders begin werk.
“Ek glo dat die ou manier van doen nie die uitdagings sal kan hanteer wat programme vir die voorbereiding van onderwysers in Suid-Afrika ten opsigte van die onderrig van taal, letterkunde en geletterdheid bied nie. Daar word vereis dat nuwe programme ontwerp word, en een van hierdie nuwe soort programme is die gebruik van gemengderealiteit-simulering. MRS’e kan vir studentonderwysers – kontak- sowel as afstandstudente – die geleentheid verskaf om spesifiek taal-, letterkunde- en geletterdheidsvaardighede vir onderwys, en bekwaamhede in Engels en Afrikaans, en spoedig in Tswana en Xhosa, aan te leer. Dit word in ’n beheerde omgewing gedoen sonder die risiko dat werklike leerders benadeel kan word, terwyl billike praktykgebaseerde geleenthede aan alle studentonderwysers verskaf word. Dit is ’n scenario wat nie gedurende skoolgebaseerde praktiese geleenthede moontlik is nie,” sluit prof Nel af.
Die belangrikheid van doeltreffende voordiensonderwyseropleiding word as ’n kwessie van uiterste dringendheid by die NWU hanteer. Prof Carisma Nel sê innoverende metodes is nodig indien onderwysuitkomste in hierdie land verbeter moet word.
Prof Charisma Nel gesels oor haar navorsing.