Mediese kundiges stem saam dat rook ’n gesondheidsgevaar is, maar talle rokers regverdig hierdie gewoonte deur te beklemtoon hoe kalmerend en sosiaal dit kan wees. Sommige rokers van plante soos dagga wys ook op die mediese voordele wat sommige studies getoon het.
’n Nuwe studie by die Noordwes-Universiteit (NWU) daag egter die rokers se persepsies en regverdigings uit deur te kyk na die moontlike nadelige effek wat die gewoonte op die doeltreffendheid van chroniese medikasie kan hê.
Dr Wihan Pheiffer, senior lektor by die DWI/NWU Prekliniese Geneesmiddelontwikkelingsplatform, sê hulle studie oor kruie-middel-interaksie het spesifiek te doen met watter effek die rook van tabak en ander plantmateriaal op die farmakokinetika – die opname, afbreek (metabolisme), verspreiding en verwydering – van medikasie in die liggaam het.
“Dit sluit in hoe rook die tyd wat medikasie in die liggaam is, kan vertraag, wat tot hoër vlakke in die bloed lei, en toksisiteit by pasiënte kan veroorsaak. In sommige gevalle kan dit ook tot die versnelling in die metabolisme en verwydering lei, wat maak dat die medikasie geen nut het nie.”
Dr Pheiffer verduidelik dat hoewel sy navorsingsgroep op die potensiële effek van rook by muise fokus, dit aangepas is om menslike gene uit te druk. “Dit stel ons in staat om spesifieke veranderings in die farmakokinetika by die muise akkuraat te ondersoek en so die veranderings by mense te voorspel. Daarbenewens kan ons ook die negatiewe effek van die blootstelling aan rook identifiseer.”
Kliniese data bevestig dat rook ’n uitwerking het
Hy sê kliniese data toon dat die rook van tabak ’n uitwerking op sekere medikasie het deur die metabolisme daarvan in die liggaam óf te verhaas óf te vertraag. Is dit waar vir enigiets wat mense rook? Dit is wat dr Pheiffer en sy span wil vasstel. Hulle doel is om die effek te ondersoek wat alle tipes plante kan hê. Hulle sal uiteindelik ook tradisionele medikasie toets wat op ander maniere ingeasem word, soos wierook.
Die studie is in die vroeë stadium, en aangesien dit net die begin van ’n langtermyn-navorsingsprojek is, besef die navorsers dat daar struikelblokke op die pad kan voorlê – waarvan hulle sommige reeds oorkom het.
“Hierdie tipe navorsing is ongelukkig baie duur, maar ons is gelukkig dat ons alreeds nasionale befondsing ontvang het.” Hy sê hulle is ook baie gelukkig dat hulle etiese en geakkrediteerde laboratoriumdieretegnoloë en ’n veearts in die span het om hulle te help met gespesialiseerde opleiding van studentenavorsers wat aan die studie deelneem.
“Ons glo dat hierdie studie ’n betekenisvolle impak sal hê en beslis pasiënte sal bemagtig wat op chroniese medikasie staatmaak om ingeligte besluite te neem wat hulle gesondheid betref. Deur te toon dat dit ’n effek het, kan mediese praktisyns bemagtig word om mense op spesifieke medikasie aan te moedig of aan te raai om op te hou rook of om hulle dokter vir alternatiewe of meer doeltreffende behandeling te vra. Dit sal hulle lewensgehalte grootliks verbeter. Die navorsing kan ook spesifiek help om behandeling of voorskrifmedikasie op ’n verantwoordelike wyse aan te pas,” sluit hy af.
Kyk na die video hieronder hoe dr Pheiffer meer inligting oor die projek verskaf.