Die CHHP se Instituut vir Sportwetenskap en Ontwikkeling is steeds aan die gang ten spyte van die inperking

Die Noordwes Sportakademie (NWAS) gebruik al langer as twee dekades die Instituut vir Sportwetenskap en Ontwikkeling by die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) as konsultant.  Die dienste sluit evaluerings, oefenprogramme, werkswinkels en verskeie ander spesialisdienste in. Sportkodes wat tans by hierdie dienste ingesluit is, is sokker, swem, netbal, rugby, krieket, hokkie en atletiek.

Die CHHP verskaf hierdie dienste regoor Noordwes. Benewens dat hulle van hulle eie geriewe in Potchefstroom gebruik maak, kan hulle ook met ’n mobiele eenheid uitgaan en atlete in hulle eie distrik evalueer. Die vier streke wat hulle dek, is Ngaka Modiri Molema, Dr Ruth Segomotsi Mompati, Dr Kenneth Kaunda en Bojanala Platinum. In die verlede is slegs provinsiale sportgroepe met die oog op talentontwikkeling geëvalueer. Die vraag na sportontwikkeling het sedert 2017 soveel gegroei dat al bogenoemde sportsoorte in die vier distrikte nou spanevaluerings geniet.

Hierdie evaluerings behels dat elke sportkode se toetsprotokol jaarliks hersien word. Dr Yolandi Willemse, hoof van die CHHP se institute van Biokinetika en Sportwetenskap en Ontwikkeling, verduidelik hoe dit werk: “Ná die voorseisoen-evaluering word die data verwerk en in ons databasis ingevoer. Afrigters ontvang dan ’n groepverslag met die bepaalde span se spesifieke oefenprogramme wat opgestel is op grond van die tekortkominge wat tydens die evaluering geïdentifiseer is. Herevaluerings van dieselfde span vind later in die seisoen plaas om die vordering te moniteer en aanbevelings oor die bestaande oefenprogram te maak.”

Ten spyte van die uitdagings van 2020 en die Covid-19-pandemie het die CHHP ’n geleentheid gesien om die sportkodes op ’n alternatiewe manier te ondersteun. “Weeklikse digitale opleidingsessies in die vorm van video-opnames is aan die spanne van die onderskeie sportkodes gestuur sodat hulle hulle fiksheid tydens die inperkingstyd in stand kan hou,” verduidelik dr Willemse. “Met die verslapping van die inperkingsmaatreëls aan die einde van 2020, kon ons weer die verskillende sportkodes fisies evalueer met die Covid-19-protokolle in plek.  Kleiner groepe word nou geëvalueer, sosiale distansiëring word gehandhaaf en maskers is verpligtend, behalwe wanneer atlete besig is om ’n hoë-intensiteittoets te ondergaan. Toerusting word voor, tydens en ná elke evaluering ontsmet,” sluit dr Willemse af.

Ten opsigte van die CHHP se toekomsplanne sê dr Willemse dat alle programme in die vorm van ’n video opgeneem sal word en aan afrigters gestuur word. Hulle kan dit dan tydens oefensessies as bykomende instrument gebruik, aangesien kontaktyd met die bepaalde atlete beperk is.   

 

........

........

........

........

 

 

 

 

Submitted on Fri, 07/09/2021 - 16:00