Die belangrikheid daarvan om STEM-moontlikhede met landelike gemeenskappe te deel

Die wêreld van kernwetenskap is vol moontlikhede en die Sentrum vir Toegepaste Stralingswetenskap- en tegnologie (CARST) op die Mahikengkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) doen sy deel om ’n beter lewe vir almal te verseker.

Om Jeugmaand te vier, het CARST in samewerking met die Nasionale Kernreguleerder op 15 en 16 Junie na Setlagole in Noordwes en Kuruman in die Noord-Kaap vertrek om met leerders oor die gebied van kernwetenskap te praat, ’n bewustheid oor kernveiligheid te skep en leerders aan te moedig om loopbane in hierdie bedryf te kies.

Die missie van CARST is om die sentrum in ’n nasionale, streeks- en selfs internasionale opleidingsinstelling vir toegepaste stralingswetenskappe te ontwikkel en om die ontwikkelingsbehoeftes van kern- en verwante bedrywe in ooreenstemming met die jongste standaarde en beste praktyke te bring.

Kernenergie beskerm luggehalte deur massiewe hoeveelhede koolstofvrye elektrisiteit te produseer. Dit lewer krag aan gemeenskappe in Suid-Afrika en dra by tot talle nie-elektriese toepassings, wat wissel van mynbou tot die mediese gebied.

Maar om die gebied van kernwetenskap te betree, het leerders wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde as vakke (STEM-vakke) nodig en daarom was dit nodig om hierdie uitreik na die gemeenskap te doen. STEM-onderwys in skole dek basiese konsepte in wiskunde, wetenskap en tegnologie. Leerders oefen ook probleemoplossingsvaardighede met eenvoudige wetenskap- en ingenieurswese-projekte. Namate leerders hierdie vakke ondersoek en leer hoe dinge werk, ontwikkel hulle kritieke denkvaardighede wat hulle regdeur hulle lewens sal help.

“Bedryfsvennote en -samewerkings is noodsaaklik, nie net vir die ontwikkeling van navorsing en ’n gekwalifiseerde arbeidsmag nie, maar ook vir uitreikprogramme soos besoeke aan skole en gemeenskappe om ons werk en projekte wat daagliks tot voordeel van die gemeenskap is met hulle te deel. Ons wys hulle ook hoe hulle by universiteite en kernbedrywe kan baat,” sê prof Thebe Medupe, waarnemende direkteur van CARST.

Prof Medupe sê dat die hoop is dat die Noordwes-Universiteit “leerders deur hierdie uitreikaksies sal aanspoor om STEM-vakke te kies en dat hulle hulle studies in die kernwetenskapverwante dissipline sal voortsit”.

Hy sê dat CARST se nagraadse programme vir al die behoeftes van die kernbedryf van toepassing is, asook om te voldoen aan die nasionale behoefte om ’n buitengewone vaardigheidsbasis te ontwikkel. Hy voeg by dat die gegradueerdes maklik plaaslik, in die streek en internasionaal in diens geneem kan word.

Een van die voordele van die bedryfsvennootskap met die universiteit is dat vaardige studente met praktiese opleiding en gespesialiseerde kundigheid verkry kan word. CARST gooi deur sy samewerkings en uitreike sy net wyd om te verseker dat hulle gegradueerdes oplewer wat tans en in die toekoms aan die land se behoeftes sal voldoen

Submitted on Fri, 06/30/2023 - 15:06