Die aanvanklike ekonomiese herstel het versnel

Die jongste syfers van die bruto binnelandse produk (BBP) wat op 9 September deur StatsSA vrygestel is, is baie beter nuus wat groei betref as wat ons nou al ’n geruime tyd ervaar. 

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê dat, soos daar oor die algemeen verwag is, die BBP-syfers vir die tweede kwartaal van 2025 bevestig dat die aanvanklike ekonomiese herstel versnel en uitgebrei het deurdat verskeie bykomende sektore ekonomiese groei ondersteun. 

Hy sê huishoudelike sowel as staatsbesteding was positief in die oorsigtydperk en was die vernaamste aandrywers van BBP se verbeterde prestasie. 

Volgens hom is die uitdaging nou om die ekonomie tot by die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) se groeimikpunt van 3% op die medium termyn te laat groei. 

“Daar word verwag dat BBP-groei vir 2025 as geheel steeds ongeveer 1% sal wees en dit is nie goed genoeg vir Suid-Afrika se dringende sosio-ekonomiese behoeftes nie. Aangesien hoëfrekwensiedata in die derde kwartaal van 2025 steeds gemeng is, is daar steeds potensiële kwesbaarhede in die huidige ekonomiese vooruitsig.” 

Prof Parsons verduidelik dat een kommerwekkende faktor is dat uitvoere reeds in die tweede kwartaal van 2025 ’n negatiewe tendens getoon het, op die tydstip waar daar verdere wêreldwye onsekerheid is. 

Nog ’n swak skakel in die ekonomiese scenario is die voortgesette negatiewe prestasie van vastekapitaalvorming, wat die hoeksteen van volgehoue ekonomiese groei is.  

“Suid-Afrika moet dus nou op die aanvanklike ekonomiese herstel begin bou en dit uitbrei. Nuwe wêreldwye teenwinde, asook voortgesette binnelandse beleidsveranderings, vereis dat ekonomiese hervormings verder en vinniger beweeg sodat beleggersvertroue aangemoedig kan word. Dit sal help om ekonomiese veerkragtigheid te versterk en beleggings en groei maksimaliseer,” sluit hy af. 

 

Submitted on