Daniels is die NWU Varsitybeker-kaptein

Dames en here, maak julle sitplekgordels vas en sit julle valhelms op: die adrenalienaangedrewe rugbytuimeltrein wat die Varsitybeker genoem word, is net om die draai.

Lincoln Daniels, wat as kaptein aangewys is, sal die Noordwes-Universiteit (NWU) op die veld lei. Hierdie vlugvoetige vleuel spog met baie ervaring, en as vierdejaar-BEd-student is hy een van die ou hande in die span. Hoewel hy net 177 cm in sy sokkies staan en die skaal op skaars 85 kg trek, het Daniels meer as genoeg moed om aan die ondersteuners se verwagtings te voldoen.

Die span, wat deur die voormalige Springbok-losskakel André Pretorius afgerig word, het reeds in Potchefstroom bymekaargekom om hulle voorbereidings te begin vir die toernooi, wat op 5 April in Pretoria begin wanneer hulle teen die Madibaz van die NMMU te staan kom. Daardie kragmeting sal gevolg word deur wedstryde teen die Shimlas en UP-Tuks.

Daar is ’n magdom nuwe rekrute in die geledere van die NWU, soos Sphepelo Mabuza, Conan Lefleur, Keagan Fortune en Marco Donges. Dit is, om die minste te sê, ’n opwindende span.

Submitted on Wed, 02/24/2021 - 12:35