Daar is niks kleins aan nanotegnologie by die Noordwes-Universiteit nie

Eenduisendmiljoenste van ’n meter. Of om dit anders te stel: eenbiljoenste van ’n meter. Hierdie ongelooflike klein meting word ’n nanometer genoem en die wêreld van nanotegnologie funksioneer tussen 1 en 100 nanometer. Dit is ook hier waar die Noordwes-Universiteit (NWU) nuwe maniere vind om siektes hok te slaan, die omgewing te help beskerm en om materiaal te ontwikkel wat volhoubaarheid wil bevorder.

Die doelwit van die fokusarea Materiaalwetenskap-innovasie en -modellering (MaSIM) by die NWU is om ’n vooraanstaande navorsings- en ontwikkelingsentrum op die gebied van materiale, metaalinisiatiewe en nanotegnologie-inisiatiewe te word om bedryfsverwante probleme op streeks-, provinsiale en nasionale vlak op te los. Daarbenewens ondersoek navorsing by die NWU oplossings vir vrae oor langtermyn-voedselsekerheid en maak uitvoerig van nanotegnologie gebruik, soos om minder giftige landbou-insette te ontwikkel, wat benaderings oor bemesting insluit. Dit is egter nie waar die NWU se soektog op die gebied van nanotegnologie ophou nie.

Professor Omolola Fayemi en haar span van die Skool vir Fisiese en Chemiese Wetenskappe by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe fokus op nanosensors. Hulle vervaardig hier elektrochemiesgebaseerde sensors met verskillende nanosamestellings soos groengebaseerde sintetiese materiale, chemiesgebaseerde sintetiese materiale en elektrogespinde nanovesels sodat biologiese molekules soos omgewingsbesoedelmiddels, vervalsmiddels in voedsel en besoedelstowwe in afvalwater waargeneem kan word.

“Basies,” sê Fayemi, “gebruik ons nanomateriaal om dinge te kan waarneem.”

Die toepassing van nanotegnologie is feitlik oneindig.

“Wanneer ’n mens na neuro-oordragstowwe soos dopamien en serotonien in die liggaam kyk, kan nanosensors abnormale vlakke van hierdie neuro-oordragstowwe waarneem, wat ons weer kan help om die sielkundige welstand van ’n persoon vas te stel.” Nanotegnologie het ook baie wye implikasies vir siektes soos Parkinson se siekte en kanker.

“Ons kan ook nanosensors gebruik om mense betyds te waarsku om nie water te gebruik wat deur besoedelstowwe soos industriële afval besmet is nie. Dieselfde geld vir voedsel, wat soms vol vervalsmiddels is wat skadelik vir jou gesondheid kan wees. Te veel verskaffers van voedsel hou nie by die vereiste standaarde nie en nanosensors kan help om dit waar te neem,” sê Fayemi, wat in Lagos, Nigerië gebore is en grootgeword het – ongeveer 6 487,5 km vanaf haar kantoor op die NWU se kampus in Mahikeng. Dit is terloops 6 487 000 000 000 002 nanometer.

“Ek is baie ver van waar ek gebore is, maar die NWU is my tuiste. Dit is ’n instelling wat op alle gebiede na uitnemendheid streef en een wat akademiese vryheid aanmoedig. Dit is ook ’n instelling wat omgee. Ons het reeds baie groot uitsette op die gebied van nanotegnologie gehad en dit help ons om ons sorgsaamheidsetiek na ons breër gemeenskap te versprei, plaaslik sowel as in die buiteland. Ek kan nie die NWU hoog genoeg aanbeveel nie, veral as jy ’n loopbaan in nanotegnologie wil volg.”

As daar al ooit ’n slagspreuk was vir die opwindende gebruike van nanotegnologie, dan word dit perfek deur Fayemi saamgevat wanneer sy sê: “Nanotegnologie mag dalk klein wees, maar dit is magtig.” Dit is beslis geen geheim nie.

....

Professor Omolola Fayemi

Submitted on Mon, 03/06/2023 - 12:13