Getalle is deel van ons lewe. En hoewel ons dalk gevoelloos, afgesny en gedesensitiseer raak deur al die getalle waarmee ons daagliks gebombardeer word, mag ons nie daaraan gewoond raak nie. Ons mag nie uit die oog verloor wat dit beteken nie, verduidelik professor Alida Herbst, Direkteur van die Skool vir Psigososiale Gesondheid aan die Noordwes-Universiteit.
“Ons moet erkenning gee aan die feit dat statistiek vir ons ’n prentjie gee van wat regoor die wêreld ten opsigte van Covid-19 gebeur, maar agter daardie getalle is daar werklike mense. Daar word beraam dat tot nege mense direk deur elke Covid-19-sterfte geraak word. Lewens word as gevolg van Covid verloor en onomkeerbaar verander, en om dit bloot in numeriese terme te sien, kan skadelik wees. Ons besef nie altyd watter uitwerking dit kan hê nie, en ek dink dat dit iets is waaraan ons nie altyd dink nie,” sê Herbst.
“Lewens word geïnfekteer en geaffekteer. Ek is bang dat ons nie altyd bewus is wat daardie getalle in werklikheid beteken nie. Ons distansieer ons van al daardie getalle. Ons sien daardie getalle op die verskillende platforms soos die tradisionele en sosiale media, en dit het ongelukkig tot gevolg dat daar ’n afstand kom oor wat daardie getalle in werklikheid beteken. Dit is egter moeilik om die verlies en rou te erken waardeur ons gaan, omdat al wat ons wil hê, normaliteit is.”
Herbst gaan voort om te sê dat ons moet onthou dat daar werklike mense agter hierdie statistieke is, mense met werklike stories van siekte, dood, ontwrigting, hartseer en wanhoop. “Hierdie komplekse verhale kan nie in getalle bereken of bloot as statistiek aangebied word nie.”
Wat moet ons dus doen?
Volgens Herbst kan simboliese gebare van eenheid help om vir mense te toon dat ons nie net getalle raaksien nie, maar dat ons aan die mense agter die getalle erkenning gee en waardering toon. Toegewyde ondersteuningsgroepe by maatskaplike agentskappe en geloofsgemeenskappe kan uitreik na diegene wat deur die pandemie geraak word, en werkgewers kan hulle beleide oor deernisverlof ná die dood van ’n direkte gesinslid hersien. Onverwerkte smart kan komplekse roureaksies tot gevolg hê, insluitende langdurigerou-versteuring en gekompliseerde of ontneming van rou (disenfranchised grief). Dit alles verhoog die risiko om ernstige geestesgesondheidsprobleme te ontwikkel. In die lig van al die probleme met die beperking van getalle by begrafnisse tydens die pandemie en die moontlikheid dat meer as een familielid aan Covid-19 afgestaan kan word, kan dit onvoldoende wees om slegs die gebruiklike getal verlofdae toe te staan.
“Werknemerwelstandsprogramme kan psigososiale opvoeding oor verlies, rou en sterftes insluit. Geleenthede om erkenning aan smart te verleen en daaroor te praat, kan grootliks tot emosionele genesing bydra,” sê Herbst.
“Die media kan met deernis stories van hartseer, pyn en verlies oordra, maar so ook dié van hoop, genesing en herstel.”