In die nadraai van die Covid-19-pandemie het die uitsluiting van selfs nog meer Suid-Afrikaanse burgers van ekonomiese aktiwiteit die land se reeds brose vrede verder laat verswak.
Dit is een van die gevolgtrekkings waartoe Noordwes-Universiteit (NWU) akademikus dr Gideon van Riet, wat onlangs ’n artikel gepubliseer het wat op drie jaar se navorsing in die JB Marks Munisipaliteit gegrond is, gekom het. Die navorsing het daarop gefokus om deur die lens van misdaad die verband tussen die Covid-19-pandemie en Suid-Afrika se brose vrede te ondersoek.
Dr Van Riet skryf in die artikel dat Johan Galtung, ’n Noorweegse sosioloog en die stigter van Peace Studies, tussen ’n positiewe vrede en ’n negatiewe vrede onderskei.
“Terwyl eersgenoemde stabiel is, is laasgenoemde broos en word deur baie strukturele of indirekte geweld in die vorm van ekonomiese ongelykheid en ander vorms van marginalisering gekenmerk. Die onderskeid tussen ’n positiewe en negatiewe vrede is vergelykbaar met die onderskeid tussen die siening van vrede as ’n gebeurtenis teenoor vrede as ’n proses,” redeneer dr Van Riet.
“Eersgenoemde beskou Suid-Afrika se vrede as iets wat na bewering in 1994 verkry is en daarom is die huidige misdaadvlakke ’n funksie van individuele slinksheid, en gevolglik ’n afwyking. Uit die siening dat vrede ’n proses is, word misdaad as ’n strukturele probleem gesien; ’n samelewingsprobleem, waar alle inwoners die verantwoordelikheid het om op ’n konstruktiewe wyse in te gryp.”
Wanneer mure gebou word, kom betrokkenheid tot stilstand
Hy sê konstruktiewe betrokkenheid vind nie plaas nie. “Formele en informele grense word elke dag deur uiteenlopende ‘sekuriteitsinfrastrukture’ soos fisiese grense, sekuriteitsmaatskappy-patrollies, alarmstelsels en verskillende formele en informele instellings (her)opgerig.
“Samelewingskeidings wat bygekom het, was die herrangskikking van die middelklas en die rykes ná apartheid. Die bevoorregte groep is nou selfs meer uiteenlopend as ooit. Die regering, wat ’n groot deel van ’n nuwe elite uitmaak, het hierdie kompleksiteite strategies bevorder deur groepe teen mekaar af te speel, terwyl hulle in die naam van sekuriteit uit maatskaplike verdeling voordeel getrek het,” voeg hy by.
“Indien ons vrede as ’n proses verstaan, is misdaad in ’n groot mate die funksie van veral ongelykheid. As sodanig is die status quo, wat in die nadraai van Covid-19 meer Suid-Afrikaanse burgers van ekonomiese aktiwiteit uitgesluit het, toenemend broos. Die post-Covid-era – as dit moontlik is – of die ‘nuwe normaal’, gaan waarskynlik dieselfde probleme ervaar wat die pre-Covid-era lamgelê het, veral die ekonomiese ongelykheid en verskeie ander lae van marginaliteit,” verduidelik dr Van Riet.
Hy sê die stelsel van politieke partye en die verskillende genooides (formele deelnemende demokratiese instellings) en gevormdes (minder formele ruimtes wat dikwels deur politieke partye gekaap is), het nie diegene wat in Suid-Afrika woon, se belange gedien nie.
“Dit lyk of die enigste haalbare oplossing – hoewel relatief onontgin – maatskaplike mobilisering deur die mense self is – oor die geskiedkundige grense van verdeling heen. In die lig daarvan dat Suid-Afrika nie uit slegs twee groepe bestaan nie, kan dinamiese alliansies rondom kwessies waar verskillende groepe die bekommernisse van ander in ag neem, die produktiefste vorm van politiek bied waardeur die nuwe normaal aangepak kan word.”
Oor die navorser
Dr Gideon van Riet is ’n senior lektor in politieke studies en is die ontvanger van ’n individuele navorsingsgenootskap (2019) van die African Peacebuilding Network-Social Science Research Council.
Hy stel belang in die teoretiese ontwikkeling van kritieke sekuriteitstudies en eietydse debatte binne die gebied. Sy empiriese navorsing was tot dusver in rampstudies en die probleem van misdaad, veral die reaksie daarop wat verder as die staat strek.
Dr Gideon van Riet