Krisisse wat as ontwrigtende noodsituasies begin, kan spoedig die nuwe normaal word. Dit is duidelik uit die meeste uitdagings in hoër onderwys in Suid-Afrika.
Veral onderrig en leer moes gebeurlikheidsplanne ontwikkel om die effek van belangrike situasies soos beurtkrag, #FeesMustFall en, tans, die Covid-19-pandemie te neutraliseer.
Dit is noodsaaklik om personeel en studente te help om aan te pas om hierdie onvoorsiene storms te trotseer. Dit vereis dat mense saam met belanghebbers kollektiewe wysheid vind, insigte deel en werkbare konsensus ontwikkel.
In die lig hiervan het die Noordwes-Universiteit (NWU) op 23 en 24 Augustus ’n virtuele colloquium aangebied wat op die toekoms van onderrig en leer fokus. Die aanlyn colloquium, getitel “Imagining the transitions: the future of Teaching and Learning @NWU”, is deur onder andere NWU-personeel, -studente en kollegas van die University College London bygewoon.
Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, sê hierdie verskeidenheid van perspektiewe, ervarings en insig het ’n verruimende betrokkenheid geskep.
Hy glo die belangrikheid van colloquiums soos hierdie kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit gee aan akademici, akademiese leiers, studente en ondersteuningspersoneel die geleentheid om idees uit te ruil oor hoe om vorentoe te gaan en laat belanghebbers toe om betyds te kommunikeer oor belangrike kwessies wat die universiteit raak.
Die colloquium, wat deur die Sentrum vir Onderrig en Leer georganiseer is, het op die NWU se pad vorentoe gefokus om seker te maak dat studentesukses verbeter word en die NWU se onderrig- en leerbenaderings versterk word.
Dit het uit verskeie paneelbesprekings en aanbiedings bestaan, en het die universiteit se vermoë beklemtoon om in moeilike tye aan te pas en te ontwikkel. Daar is ook na die huidige status quo in hoër onderwys gekyk waar beplanning steeds deur noodgedwonge afstandsonderrig en -leer gekenmerk word.
Die University College London (UCL) het hierdie benadering vir ’n verskeidenheid soortgelyke uitdagings gevolg, ten spyte van verskille in die konteks. Hierdie uitdagings sluit die heroorweging van leweringsmodusse en onderrigruimtes en die skep van ’n kursus- en modulestruktuur in sodat die studente-ervaring bevorder kan word. Die benadering se doel is om ’n gevoel van gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder deur meelewing, insluiting en welstand te skep.
Dit sluit ook in dat ’n personeelontwikkelingskursus wat goeie praktyk demonstreer, ontwerp word, asook ’n kursus vir studente om hulleself met aanlyn leer vertroud te maak.
“Hoewel dit duidelik is dat die pandemie ’n geweldige impak op die welstand en geestesgesondheid van talle mense in ons gemeenskap het, het die harde werk om bevorderlike leergeleenthede vir studente in ’n uitdagende omgewing te skep, personeel en studente by die UCL nader aan mekaar gebring. Vennote in leer en studente se insette in besluitneming op alle vlakke word geweldig waardeer,” sê prof Norbert Pachler.
Joanna Stroud sê een positiewe aspek van die pandemie vir hoër onderwys is die gevoel van gemeenskaplikheid en die deel van ervarings wat internasionaal waargeneem kan word.
“Die effek daarvan op onderrig, leer en assessering was onmeetlik. So was dit ook met die pogings van personeel om dinge te laat werk, tesame met ’n bereidwilligheid om praktyke met kollegas te deel ongeag waar hulle is of by watter instelling hulle betrokke is.”
Covid-19 verskil van vorige ervarings
Volgens Prof Robert is die gebeurlikheidsbeplanning rakende Covid-19 soortgelyk aan en ook anders as wat die NWU in die verlede tydens ander uitdagings ervaar het.
“Hoewel dit as ’n ontwrigtende noodsituasie ontstaan het, maak Covid se langdurigheid dit anders as enigiets wat in die verlede ervaar is. Dit veroorsaak ’n probleem ten opsigte van die wyse waarop die NWU en ook die sektor en die staat daarop reageer.”
Prof Robert sê die NWU se beplanning het tot dusver Covid as ’n gebeurlikheid beskou (’n gebeurtenis wat kan plaasvind, maar nie moontlik is om te voorspel nie), en hierdie definisie plaas Covid in die middel van ’n reaksie en respons op die krisis ten opsigte van onderrig en leer.
“Baie van die deelnemers aan die colloquium het erken dat Covid-19 ons gedwing het om aanvaarde eienskappe van die NWU se Onderrig-Leerstrategie weer in oënskou te neem. Dit sluit in wat selfgerigtheid in ons Onderrig-Leerstrategie beteken in ’n konteks waar sosiale isolasie die motivering en selfdissipline ondermyn wat studente vir doeltreffende selfgerigtheid of samewerkende leer nodig het.”
Hy verduidelik dat wat uit die colloquium voortgespruit het, is ’n begrip dat onderrig-leer weer vir die NWU gesentreer moet word met betrekking tot die lesse wat uit Covid geleer is. Beplanning moet verskuif van krisisbestuur na die versterking van ons fokus op kwaliteit en uitnemendheid deur tegnologie te gebruik na ons fokus op kwaliteit, en op uitnemendheid. Dit behels ’n verskuiwing van gebeurlikheidsbeplanning na kontinuïteitsbeplanning (konsensusbeplanning), waar die fokus nie die krisis is nie, maar beplanning om tegnologie te gebruik om as grondslag vir kwaliteitleer vir uitnemende prestasie te dien.
Studenteleiers wat aan die colloquium deelgeneem het, het die belangrikheid beklemtoon van sterk, toeganklike en deursigtige kommunikasienetwerke wat studente in staat stel om deel van die leergemeenskappe te wees, selfs as hulle aanlyn of oor ’n afstand studeer.
Volgens Prof Robert het die colloquium die behoefte beklemtoon dat die NWU ’n model en plan vir die digitalisering van opvoeding binne die kurrikulum moet ontwikkel. Dit sal ruimtes definieer vir die tipes ervaring wat nodig is om leer optimaal te ondersteun. Hierdie ervarings kan wissel van leer van aangesig tot aangesig of van selfgerigte leer op ’n asinchrone wyse, na gelyktydige aanlyn projek- of samewerkende leer.