The Cave: ’n digitale veilige hawe vir maatskaplike werkers

Maatskaplike werk word oor die algemeen as ’n stresvolle beroep beskou as gevolg van die emosionele eise waaraan praktisyns onderworpe is. Een groep maatskaplike werkers wat veral kwesbaar is vir negatiewe uitkomste is dié wat in die kinderbeskermingspraktykopset werk en die statutêre taak het om kinders te beskerm.

Dit was een van die navorsingsbevindings van prof Ansie Fouché en dr Elmien Truter, albei gekwalifiseerde professionele maatskaplike werkers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Optentia-navorsingsfokusarea.

Hulle het bevind dat tydens die uitvoering van hulle statutêre pligte, die welstand van maatskaplike werkers wat kinders beskerm (CPSW’s) inderdaad kwesbaar is as gevolg van werkverwante faktore soos ’n oormatige werkslas, personeeltekorte, blootstelling aan geweld en aggressie, hoë stresvlakke, en onvoldoende emosionele en finansiële ondersteuning.   

Krag en ondersteuning vir praktisyns

In ’n poging om CPSW’s te bemagtig, het twee navorsers – albei van die Sterktegebaseerde Studies en Intervensie-subprogram by Optentia – ’n interaktiewe webwerf genaamd The Cave bekendgestel.  

Dr Truter, wat hierdie inisiatief begin het, sê dat die “grot” ’n plek verteenwoordig waar CPSW’s iets kan leer en oor nuwe insigte of ontwikkelings kan nadink sodat hulle sterker en wyser is wanneer hulle na die praktyk terugkeer.

Prof Fouché voeg by dat die webwerf ’n bron van kennis en bemagtiging vir alle praktisyns is wat hulleself in ’n werksomgewing bevind waar hulle met ’n gemeenskapsekologie werk wat drasties verander. Dit verwys na die uitdagende konteks waarin CPSW’s werk en wat deur hoë werkloosheid, toenemende kriminaliteit en toenemende sosio-ekonomiese probleme gekenmerk word.

The Cave-webwerf ondersoek temas wat met kinderbeskermingswerk in Suid-Afrika verband hou, en die inhoud van elke tema is in drie verskillende afdelings beskikbaar, naamlik Precious Stones, Bonfire en Moonlight.

Rimpeleffek op statutêre sorg

Die navorsers verduidelik dat die moeilike en uitputtende werkstoestande van CPSW’s hulle kwesbaar maak vir negatiewe geestesgesondheidsuitkomste, soos uitbranding, depressie, sekondêre traumatiese stres, en meelewingsuitputting.

Dit kan negatiewe implikasies vir dienslewering hê, aangesien daar ’n toename in personeel se afwesigheid, ’n hoë voorkoms van personeeluitvloei en onbevredigende werksprestasie kan wees. Die beskerming van die kwesbaarstes in die samelewing kan dan skade ly in dié mate dat kinders wat sorg en beskerming nodig het dalk in situasies moet bly waar hulle mishandel word. Uiteindelik lei dit tot die skending van die kinders se grondwetlike regte.

Die webwerf kan help om hierdie risiko’s te verminder deur aan die CPSW’s ’n gevoel van gemeenskaplikheid en ondersteuning te bied.  

“Die vierde industriële revolusie verander die voorkoms van gemeenskappe, en as sodanig bied die webwerf aan ons die geleentheid om deur middel van toeganklike tegnologie soos slimfone met medepraktisyns en professionele persone te praat,” sê prof Fouché.

“Ons as navorsers geniet maklike toegang tot inligtingshulpbronne – iets wat die praktisyn in die veld nie het nie. Voeg daarby die beperkte tyd wat praktisyns tot hulle beskikking het, en dit word duidelik waarom hulle die behoefte het om nuwe inligting vinnig en sonder probleme in die hande te kry,” sê dr Truter.

The Cave voldoen aan hierdie behoeftes, en bied ’n veilige hawe waar CPSW’s krag en ondersteuning kan ontvang sodat hulle reg kan laat geskied aan die kinders wie se welstand van hulle afhanklik is.

 
Dr Elmien Truter.   Prof Ansie Fouché.


’n Skermgreep van die interaktiewe webwerf, The Cave.

Submitted on Thu, 03/19/2020 - 09:36