Cara Stacey wen Jong Kunstenaar-toekenning vir Musiek

Dr Cara Stacey, senior lektor in Afrikamusiek by die Skool vir Musiek aan die Noordwes-Universiteit (NWU), is so pas as hierdie jaar se wenner van die Standard Bank Jong Kunstenaar-toekenning vir Musiek aangewys. Hierdie toekenning gee erkenning aan haar buitengewone talent as komponis en uitvoerende kunstenaar.

Haar musiek word deur die Nasionale Kunstefees se Kunstekomitee as “ryk en kompleks, en terselfdertyd wonderlik toeganklik” beskryf. Hulle sê ook dat haar praktyk inheemse en elektroniese musiek deur die filters van geskiedenis, maatskaplike kwessies en die natuur omvat. Haar werk put uit die lewe en vorm brûe vir die luisteraar om toegang tot wêrelde te kry wat hulle dalk ontwyk het.

Benewens die klavier, gee sy ook uitvoerings op verskeie Afrikamusiekinstrumente soos die uhadi, umrhubhe, makhoyane, budongo en die mbira. Benewens vir haar solo-uitvoerings werk sy ook gereeld saam met ander musici en het reeds vier albums uitgereik. As musiekkenner fokus haar navorsing op inheemse Suider-Afrikaanse musiek en musiektradisies wat sy baie graag wil kontekstualiseer en bewaar.

 

Submitted on Tue, 09/07/2021 - 15:46