BUAN-besoek verken geleenthede vir samewerking

Die nabyheid van die Botswana Universiteit van Landbou en Natuurlike Hulpbronne (BUAN) aan die Mahikengkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) in besonder maak dit maklik om saam te werk – dit skep geleenthede om saam aan projekte te werk wat vir albei voordelig is. Dit is waarom ’n afvaardiging van BUAN die NWU onlangs besoek het.

Die span, met prof Ketlhatlogile Mosepele, die visekanselier van BUAN, aan die hoof, het tyd deurgebring by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe (FNAS) op die Potchefstroomkampus van die NWU, waar hulle aan ’n paar van die fakulteit se indrukwekkende projekte bekend gestel is.  Die doel van verteenwoordigers van BUAN se besoek aan die NWU se bestuur – wat verteenwoordig is deur prof Jeffrey  Mphahlele, adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovasie, Clement Manoko, die uitvoerende direkteur vir Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking, prof David Modise, die uitvoerende dekaan van die FNAS, en lede van sy dekaanskap – was om die samewerking aan die gang te kry.      Hulle glo dat die deel van inligting albei partye ook sal help in hulle poging om ’n derdegeldstroom-inkomste te genereer.

Dit was prof Mosepele se eerste amptelike besoek aan die NWU. Hy is vergesel van ’n span wat bestaan het uit onder andere prof Samodimo Ngwako, dekaan van Navorsing en Nagraadse Studies, en Kealeboga Pifelo, direkteur van Besigheidsontwikkeling.

“Hierdie samewerking moes al lankal plaasgevind het, aangesien ons baie met Botswana gemeen het” sê prof Modise.  “Deurdat ons net twee uur van mekaar verwyder is, beteken dat een van ons maklik die ander kan besoek en binne een dag terugkeer.

“Die NWU is besig om ’n Skool vir Veeartsenykunde te vestig en Botswana is ’n groot produsent van beesvleis. Daar is so veel wat beide universiteite kan baat, en ons sien daarna uit om hierdie samewerking te ondersoek.”

Ondertekening van MvV in 2023

Die mees onlangse besoek het aan die einde van April plaasgevind en bou voort op ’n memorandum van verstandhouding (MvV) wat in 2023 onderteken is.

Die MvV het voortgespruit uit die eerste besoek wat BUAN in Oktober 2022 afgelê het. Die doel van daardie vergadering was om wedersydse belangstellingsgebiede en gemeenskaplikheid vas te stel.

NWU vertoon ’n paar van die FNAS se bestes

Die BUAN-span is aan die indrukwekkende werk van die Navorsingsarea vir Chemiese Hulpbronveredeling (CHV) en die Sentrum vir Menslike Metabolomika bekendgestel.

Prof Manie Vosloo het ’n oorsig gegee van die navorsingsarea en verduidelik uit watter groepe die CHV bestaan. Hy het die BUAN-afvaardiging aan onder andere die Welgegund Supersite, ’n Europese geïntegreerde projek oor aërosol-wolkklimaat en luggehalte-interaksies, bekend gestel.   Hy het ook vir hulle die gespesialiseerde instrumente gewys wat die CHV in hulle navorsing gebruik, byvoorbeeld die Redox-vloeibattery vir hernubare energie en die stoor van energie, en die instrumente vir kombinatoriese dampdeponering en sifting.

Die Sentrum vir Menslike Metabolomika was nog ’n plek waar die afvaardiging aangedoen het. Hier het dr Ilse du Preez hulle van die siftingsprojek vir pasgeborenes vertel waar seldsame siektes by babas gediagnoseer kan word. ’n Deel hiervan is Nngwe – One Life Matters, ’n inisiatief met die doel om Suid-Afrikaanse klinici en wetenskaplikes saam te bring om die belange van pasiënte met seldsame siektes te prioritiseer.

Prof Modise sê dat hulle ooreengekom het dat ’n afvaardiging van die NWU BUAN voor die einde van die jaar sal besoek. “Intussen moedig ons die NWU se akademici aan om op ’n groter skaal samewerkings met BUAN te ondersoek,” het hy afgesluit.

Die afvaardiging van die Botswana Universiteit van Landbou en Natuurlike Hulpbronne (BUAN) is deur verteenwoordigers van die bestuur by die NWU ontvang.

Die afvaardiging van die Botswana Universiteit van Landbou en Natuurlike Hulpbronne (BUAN) is deur verteenwoordigers van die bestuur by die NWU ontvang.

Submitted on Fri, 05/17/2024 - 11:07