Breë begrotingstoespraak is positief vir besighede en verbruikers

“In die uitdagende ekonomiese omstandighede het die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, getoon dat Suid-Afrika se staatsfinansies in veilige hande is terwyl hy dit in die onmiddellike toekoms na skuldstabiliteit en fiskale volhoubaarheid stuur.”

In sy kommentaar op die 2022-begroting, wat op 23 Februarie gelewer is, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), dat die begrotingstoespraak ’n realistiese evaluering van Suid-Afrika se huidige ekonomiese situasie weerspieël. Dit het die risiko’s geïdentifiseer wat nog bestuur moet word en die belangrikheid beklemtoon om nou toepaslike fiskale strategieë vas te maak.

“Die begrotingstoespraak het verskeie eienskappe gehad wat vertroue bou. As gevolg van ’n sterk inkomsteprestasie en laer besteding sedert die mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBBV) in November, het skuldsyfers verbeter. Die begrotingstoespraak erken ook die mate waartoe Suid-Afrika se ekonomiese wel en wee in die toekoms aan ekonomiese diversifikasie en hoër inklusiewe groei gekoppel is. Dit was ook moontlik vir die begroting om toepaslike belastingbesluite te neem in die lig van die huidige swak toestand waarin die ekonomie verkeer.”

Hy sê dat die breë boodskap van die begroting positief vir besighede en verbruikers is.  “Dit is nietemin nie duidelik of die 2022-begroting ’n stapverandering in die groeivooruitsigte vir Suid-Afrika verteenwoordig nie. Die begrotingstoespraak bied ’n matige gemiddelde groeivooruitsig van 1,8% oor die volgende drie jaar.”

Volgens prof Parsons lyk dit of verskeie van die vernaamste moeilike beleidsbesluite – wat dringend nodig is om ’n baie hoër arbeidsryke groei as 1,8% te bereik – óf uitgestel óf aan verdere vertraagde prosesse onderhewig is. Die begrotingstoespraak lyk in sommige opsigte eerder na ’n “vaspenoperasie”, terwyl daar eerder meer dringendheid in die besluitneming ingewerk moes word.  

“As die ekonomie uiteindelik die 4%- tot 5%-groeivlak bereik wat nodig is om werkloosheid beduidend te verminder, moet meer aandag nou gegee word aan maniere om die ekonomie se ware groei- en indiensnemingspotensiaal te ontsluit. Soos minister Godongwana ook gewaarsku het: fiskale planne en verwagtings kan nie op die oorskryding van belastinginkomste berus nie, maar moet op volhoubare langtermyngroeistrategieë gebou word.”

Prof Parsons wys daarop dat daar steeds swakhede en toekomstige onsekerhede is wat hanteer moet word. Hy sê kwessies soos die uitdaging van die staatsektor se loonrekening, die behoefte om die Eskom-probleem meer beslissend op te los, en die dringendheid vir strukturele hervorming bly “onafgehandelde sake” op die nasionale agenda.

Submitted on Thu, 02/24/2022 - 11:18