Bou ’n blinker toekoms: die heel eerste program van SASS streef daarna om môre se leiers te bemagtig

Die organisasie Hoër Onderwys en Leierskapbestuur (Higher Education and Leaderrship Management, HELM), het vroeër hierdie jaar die Studentesake en Studentesukses-program (SASS-program) by die Kopanong Hotel en Konferensiesentrum in Benoni, Johannesburg bekendgestel.

SASS is ’n nasionale leierskapsbemagtigingsprogram vir universiteitspersoneel wat by die ontwikkeling, ondersteuning en verskaffing van dienste aan studente betrokke is. Die doel van die program is om studentesukses, institusionele leierskap en maatskaplike geregtigheid by openbare universiteite regoor die land beduidend te bevorder.

Dr Sibusiso Chalufu, uitvoerende direkteur van Studentelewe by die Noordwes-Universiteit (NWU) en voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging vir senior professionele persone betrokke by studentesake (South African Association of Senior Student Affairs Professionals, SAASSAP), sê die SASS-program sal ’n noodsaaklike weg vir praktisyns en professionele persone betrokke by studentesake en -dienste (Student Affairs and Professionals, SAS) baan.

Dr Chalufu glo ook dat die program ’n noemenswaardige mylpaal is vir individue wat in professionele ondersteuningsdienste werk en wat met die holistiese ontwikkeling van studente gemoeid is. Hy beklemtoon dat die kweking van ’n daadwerklike samewerking regoor die sektor – ter ondersteuning van studente – ’n bydrae sal lewer ten opsigte van die ontwikkeling van goed afgeronde studente wat ’n kritieke rol as wêreldburgers en -leiers kan speel.

Nadat hy die bekendstelling van die program bygewoon het en as hoofspreker opgetree het, is dr Chalufu seker dat hy aan volgende jaar se program gaan deelneem. Hy sê dat hy ’n bydrae kan lewer deur een van die aanbieders te wees, en dit is ’n geleentheid vir hom om sy kennis te deel en ander mense te ontmoet.

Die inhoud van die program sal in die toekoms in ’n aanlyn en in ’n hibriede formaat aangebied word en plaaslike en internasionale fasiliteerders en sprekers betrek. Die geselekteerde deelnemers sal by portuurgroep-leergroepe, navorsingsprojekte, kursuswerk en mentorskap betrokke wees.

Aansoeke

Elke openbare universiteit regoor die land mag ’n maksimum van vier kandidate benoem. Die tweede sessie van die SASS-program sal tussen April en Oktober 2024 aangebied word, en die benoemde personeel word aangeraai om te registreer deur die volgende skakel: https://helm.ac.za/sass/ te gebruik. Voorleggings sluit in Maart 2024.

Die benoemende universiteit moet onderneem om vir elke geselekteerde deelnemer die bedrag van R15 000 aan HELM te betaal. Hierdie geld sal gebruik word vir programuitgawes wat nie deur HELM se befondsing deur die Universiteitskapasiteitsontwikkelingsprogram (UCDP) gedek word nie.

Kurrikulum

Die kurrikulum van die program is verdeel in vier onderwerpe, waarvan elkeen sy eie subonderwerpe het. Die eerste onderwerp is Leierskap in Hoër Onderwys, en sy subonderwerpe wissel van modelle van leierskap, bestuur, verandering in kompleksiteit en institusionele kultuur, tot die lei van spanne en diversiteit.

Die tweede onderwerp is Hoër Onderwys en behels beleide, mensehulpbronne, finansies, volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte, globaal-plaaslik, doelwitte en beleide van hoër onderwys, en loopbaanontwikkeling as subonderwerpe. Dit word gevolg deur die onderwerp van Studente-ondersteuning en -ontwikkeling, wat bestaan uit teorie van studente-ontwikkeling, teorieë van ondersteuning en studenteleer en transformasie as subonderwerpe.

Die vierde en laaste onderwerp in die kurrikulum is Evaluering en Navorsing, wat die subonderwerpe van werkopdragte en gevallestudies insluit.

Wie aan die program behoort deel te neem:

· Middel- en senior bestuur

· Leierskap

· Praktisyns

· Administrateurs

· Akademiese en navorsingspersoneel

In hoër onderwys is studentesukses fundamenteel, en die SASS-program sal personeellede toerus met die vaardighede en kennis wat hulle nodig het om studente en instellings doeltreffend te ondersteun en betrokke te kry. Studente sal bemagtig word as diegene wat met hulle moet werk self ook bemagtig word.

.....

Die klas van 2023 wat aan die heel eerste SASS-program deelgeneem het

Submitted on Tue, 12/19/2023 - 10:56