Bou hoop, verander lewens: Pilgrim Welfare Centre bring sy gemeenskap byeen

In die hart van Small Farms, Evaton, naby Vereeniging in die Vaaldriehoek, lê die Pilgrim Welfare Centre.

Die missie van hierdie instapsentrum is tweeledig: om armoede hok te slaan en opvoeding te bevorder. Om dit te bereik, het hulle ’n verskeidenheid bemagtigingsinisiatiewe geïmplementeer wat vir verskillende ouderdomsgroepe ontwerp is om te verseker dat elke lid van die gemeenskap met die regte gereedskap vir sukses toegerus word. Hierdie sentrum, wat deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling erken word en as ’n artikel 18A-organisasie goedgekeur is, is daartoe verbind om ’n blywende impak in sy gemeenskap te maak.

Dimakatso Sithole het die organisasie in Julie 2022 gestig, en as direkteur verseker sy die volhoubaarheid daarvan en sorg dat dit op ’n daaglikse basis goed bedryf word.  Hoewel sy tans die organisasie self befonds, is sy gelukkig om ’n toegewyde span van 19 vrywilligers te hê wat met hart en siel hulle tyd en harde werk sonder enige geldelike vergoeding gee om hierdie sentrum in die regte rigting te stuur.

“Elke vrywilliger speel ’n deurslaggewende rol in die sukses van ons organisasie. Ons bied met trots drie kernprogramme aan: die naskoolse versorgingsprogram, die jeugontwikkelingsprogram, en die gemeenskapsontwikkelingsprogram. Ons het in November 2022 ’n vennootskap met die Noordwes-Universiteit (NWU) gesluit en as ’n gemeenskapsvennoot geregistreer. Hierdie samewerking het ons vermoë verder versterk om ’n verskil te maak in die lewens van diegene wat ons dien,” sê sy.

Die organisasie was gelukkig om vanaf 19 Julie 2023 ondersteuning en donasies van die NWU te ontvang, iets wat die saak baie bevorder het. Daar is tans ’n toegewyde span van sewe versorgers wat vrywillig hulle tyd vir die sentrum gee. Hulle verantwoordelikhede omvat ’n verskeidenheid take, insluitend tuisbesoeke aan lede van die gemeenskap en om gedetailleerde verslae oor hierdie besoeke op te stel.

Daarbenewens dien hulle as skakelpersone tussen verskillende organisasies, soos die Departement van Binnelandse Sake, SASSA, Lifeline en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, om seker te maak dat gevalle behoorlik na die relevante departemente verwys word. Hulle werk ook saam met die sentrum se koördineerder vir gemeenskapsontwikkeling om gemeenskapslede te help wat klere of kos nodig het. Daar moet egter genoem word dat die sentrum steeds beradingsopleiding vir sy versorgers benodig, aangesien daar nie tans ’n interne maatskaplike werker is nie.

“Danksy die groothartigheid van die NWU het die sentrum ’n waardevolle donasie van 10 rekenaars asook kantoormeubels, stoorkaste, ’n drukker en witborde ontvang. Hierdie bydraes het die doeltreffendheid en effektiwiteit van ons organisasie geweldig gehelp. Ons het vroeër uitdagings gehad met dié dat ons net een skootrekenaar vir agt van ons administratiewe personeellede beskikbaar gehad het. Dit het vertragings tot gevolg gehad, aangesien elkeen hulle beurt moes afwag om die rekenaar te kon gebruik. Met die verkryging van die rekenaars het elke personeellid egter nou die geleentheid om onafhanklik te werk en hulle toegewysde take sonder onderbreking te voltooi,” sê Dimakatso

Sy sê hulle kan nou ook die kinders en jongmense leer om rekenaars te gebruik, veral wanneer hulle navorsing vir die skool moet doen.

Hulle kantoor was vroeër met staaltafels en plastiekstoele toegerus, maar danksy die skenking van pragtige professionele stoele en tafels, vertoon die sentrum ’n baie groter verwelkomende en professionele atmosfeer.  Dit het die span se produktiwiteit baie verhoog, aangesien elke personeellid nou hulle eie afgebakende werksruimte het.

“Ons rekenaars pas perfek op die tafels en ons kan nou ons lêers en dokumente netjies stoor in die kaste wat ons ontvang het.  Ons is ook geweldig dankbaar oor die witborde, aangesien hulle van groot nut is om ons onderrigassistente te help wanneer hulle iets aan die kinders wil verduidelik,” sê sy.

Luister na Dimakatso waar sy die NWU bedank vir die positiewe impak wat die universiteit op hulle organisasie gemaak het.

Dimakatso Sithole, stigter en direkteur van die Pilgrim Welfare Centre.

Die span vrywilligers van die Pilgrim Welfare Centre.

Die NWU het toerusting en kantoormeubels soos rekenaars, stoorkaste en boekstaanders aan die sentrum geskenk.

Submitted on Thu, 11/16/2023 - 15:41