Boek ondersoek die rol van musiek in emosies

Musiek kan ’n mens se gemoed kalmeer. Daar word gesê “musiek maak die woedende monster stil”.

Dit kan byvoorbeeld ’n omgewing van kalmte, romanse, leer en kreatiwiteit skep. ’n Nuwe boek deur prof Conroy Cupido, ’n akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU), kyk hoe vier visuele kunstenaars oorspronklike kunswerke geskep het oor die betekenis wat hulle aan musiek heg en hoe die musiek hulle emosies beïnvloed het.

Music, art and emotion: depictions of the night inspired by romantic art song is ’n ooptoegang- vakkundige boek wat op 22 Februarie bekendgestel is.

Dit bied insigte oor hoe musiek emosies kan ontlok – van woede tot hartseer, vreugde en ligtheid – en klanke soos voëlgesang of donderweer kan naboots. Met ander woorde musiek kan iets buite sigself oordra, en die luisteraar kan ’n bepaalde betekenis daaraan heg.

Die NWU-navorsers dr Jaco Meyer en dr Willem Venter het hoofstukke tot die boek bygedra.

“Hulle navorsing het hoofsaaklik op die rol van musiek in welstand en positiewe emosies gefokus. Vier visuele kunstenaars het na vyf kunsliedere deur Schubert, Strauss, Fauré en Berlioz geluister. Dit het hulle geïnspireer om 20 nuwe kunswerke te skep wat op hulle persoonlike begrip van die betekenis van die liedere gegrond was, sonder dat hulle die oorspronklike Franse en Duitse woorde van die liedere verstaan het,” sê prof Cupido, medeprofessor in Musiek.

Die kunstenaars was Jean Lampen, Marna de Wet, Kevin du Plessis en Elna Venter. Hy verduidelik dat hulle op die verwysingsbetekenis in musiek moes staatmaak en tydens die projek hulle emosionele ervaring van die musiek in ag moes neem.

“As gevolg van die interdissiplinêre aard van hierdie navorsing en die talle verskillende metodes wat in ons benadering gebruik is, kon ek empiriese data insamel en ontleed wat ’n ryk, grondige begrip verskaf het van hoe mense betekenis aan musiek toeskryf,” sê prof Cupido.

“Ek het gevind dat luisteraars outomaties by die woorde van die liedere aanklank vind. Daar is egter so veel betekenis in musiek versteek, en ek wou uitvind hoe luisteraars betekenis aan die kunsliedere toeskryf wanneer hulle nie die woorde verstaan nie.”

Hy het ook die kunstenaars se kreatiewe proses ondersoek en dit met bestaande literatuur oor emosie en referensialisme* in musiek gekombineer.

Die boek is beskikbaar by: https://books.aosis.co.za/index.php/ob/catalog/view/333/461/7219-1

Om na ’n video van die bekendstelling te kyk en te luister hoe prof Cupido oor die boek praat, besoek: https://www.youtube.com/watch?v=M_oUQY5RT4c of vir die persverklaring besoek https://aosis.freshdesk.com/helpdesk/tickets/27854

* Referensialisme is die oortuiging dat musiek iets buite die musiek self kan oordra. Musiek kan iets anders verteenwoordig, byvoorbeeld musiekinstrumente kan klanke soos dié van die wind, ’n storm en voël- of dieregeluide oordra. Musiek kan ook met sekere emosies geassosieer word en luisteraars kan betekenis daaraan heg.

...

Prof Conroy Cupido

....

Kunstenaar Marna de Wet se visuele kunswerk Slumber.

Submitted on Mon, 03/13/2023 - 09:55