Boek ondersoek anti-apartheid-intellektueel se werk en voortgesette relevansie

Post-apartheid Suid-Afrika het steeds talle onopgeloste probleme en onvervulde beloftes, ten spyte van noemenswaardige vordering op sekere gebiede. ’n Boek oor die werk van die ontslape anti-apartheidsaktivis en intellektueel, Mzala Nxumalo, wat onlangs gepubliseer is, poog om ’n belangrike bydrae te lewer oor die intellektuele werk wat vir Suid-Afrika in die huidige problematiese tyd voorlê – veral in die konteks van hedendaagse linkse politiek.

Die boek, Mzala Nxumalo, Leftist Thought and Contemporary South Africa (2023), wat deur Jacana-uitgewers uitgegee is, is deur prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer aan die Noordwes-Universiteit (NWU), geredigeer en is ’n linksgesinde beoordeling deur gemeenskapsaktiviste en akademici van kapitalisme in Suid-Afrika. Hierdie nuwe boek het sy oorsprong te danke aan geselekteerde bydraes wat tot nou toe ongepubliseer was en aanvanklik gelewer is by konferensies en seminare georganiseer deur die Mzala Nxumalo-sentrum vir die studie van die Suid-Afrikaanse samelewing, wat in 2015 tot stand gekom het.

Dit gee erkenning aan die relevansie, vakkundige nalatenskap en intellektuele agting wat aan Nxumalo verskuldig is. Hy was een van die voorste Marxistiese intellektuele wat uit die 1976-studente-opstand teen die apartheidsregime gekom het, en is dalk die bekendste vir sy boek oor Mangosuthu Gatsha Buthelezi (Zed Books, 1988). Nxumalo se dood in 1991 het ’n leemte gelaat in die African National Congress (ANC) asook die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP).

In sy resensie oor die boek sê die vooraanstaande kritikus Richard Pithouse: “Hierdie omvattende essays blaas nuwe lewe in linkse ontleding en reik uit na die verlede om ook die hede in te sluit. Dit is ’n belangrike bydrae om deur dialoog met die beste idees van die wêreld weer ’n linkse intellektuele tradisie aan die gang te kry.”

Die boek omvat bydraers vanuit ’n verskeidenheid perspektiewe. Van hulle kom van universiteite, politieke bewegings, werkersorganisasies en die burgerlike samelewing, wat almal ’n gemeenskaplike behoefte het om ’n beoordeling van post-apartheiddemokrasie in Suid-Afrika te gee. Dit sluit bydraes in van wyle Percy Ngonyama, John Pampallis, Mandla Radebe, Sam Matiase, Noel Solani, Alex Mashilo, Pat Horn, Gunnett Kaaf, Bernard Dubbeld, Vladimir Shubin, Rasigan Maharaj en Sigfried Tivana.

Prof Balfour beklemtoon dat Nxumalo steeds ’n prominente intellektueel in Suid-Afrikaanse sosialisme en Marxistiese studies is. “Sy werk het vanuit ’n verskeidenheid perspektiewe die rol van die staat in verhouding tot die gemeenskap ondersoek. Wat na vore gekom het, is ’n bekommernis oor hoe die staat gebruik word om die belange van ’n dominante heersersklas te dien ten koste van ’n meerderheid wat steeds kwesbaar, sonder werk en arm is.

“Die boek ondersoek ook hoe die ANC en die SAKP in Suid-Afrika die internasionale solidariteit benut het in die aanloop tot nasionale bevryding, maar hoe dit in die nadraai van 1994 moeilik was om samehang en rigting te behou.

“Vir my is die vernaamste insig wat met die boek verband hou die behoefte aan ’n volgehoue beoordeling van die post-apartheidstaat en die wêreldwye neoliberale kapitalistiese agenda. Die beoordeling en agenda moet saamgevoeg word in ’n ontleding van wat in die post-demokratiese linkse beweging in Suid-Afrika plaasgevind het en wat in die post-bevrydingsoomblik gebeur het. Ons moet onsself afvra wat ons bereik het en wat nie. Dit is waarom hierdie boek veral nou relevant is.”

Hy sê Nxumalo is veral nou belangrik as gevolg van ’n nuwe ontwikkeling, nie net in die media nie, maar ook in diskoers, van ’n behoefte aan ’n meer volgehoue beoordeling van sommige van die uitkomste van Suid-Afrika se beleide – bedoeld of onbedoeld –oor die afgelope dertig jaar of wat.

Vir meer inligting, besoek: https://jacana.co.za/product/mzala-nxumalo-leftist-thought/

 

...

Die boek, Mzala Nxumalo, Leftist Thought and Contemporary South Africa, blaas nuwe lewe in linkse ontleding.

.....

Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer by die NWU, het die boek oor die werk van Mzala Nxumalo geredigeer.

Submitted on Mon, 11/20/2023 - 09:05