Biblioteekbestuurders deel hulle kennis oor KI in Chili

Die wêreld van biblioteke gaan nooit weer dieselfde wees ná die koms van kunsmatige intelligensie (KI) nie. Biblioteke regoor die wêreld het KI verwelkom as ’n instrument wat nie net hulle dienste beter maak nie, maar ook ’n beter biblioteek-ervaring vir hulle gebruikers verskaf.

Twee verteenwoordigers van Biblioteekdienste by die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs die vierde simposium vir KI en biblioteke in Chili bygewoon.

Neli Tshabalala, direkteur van Gedeelde Dienste, en Ntobeko Sikhakhane, bestuurder van Inligtingshulpbronne, het die NWU by die simposium verteenwoordig. Hulle het aangesluit by meer as 300 teenwoordiges en 500 aanlyn deelnemers van 16 lande, wat hoofsaaklik uit bibliotekarisse, biblioteekkundiges, argivarisse, akademici en nagraadse studente bestaan het.

Die verteenwoordigers van die NWU het baat gevind by die kundigheid van hulle internasionale kollegas en hulle kennis gedeel oor watter impak KI het op dienslewering in die biblioteek – veral in die universiteitsopset.

Neli sê die simposium se tema: Transforming Information Access and Discovery, se doel was om die jongste vordering in KI, biblioteke en inligting te ondersoek, terwyl dit ook ’n platform vir professionele netwerking verskaf het.

Kundigheid oor die impak van KI op dienslewering in die biblioteek

Neli en Ntobeko het twee referate by die konferensie gelewer. Neli se aanbieding het die nuwe grense in dienslewering ondersoek wat KI na biblioteke gebring het. “Ek het uiteengesit hoe nuwe tegnologieë en vaardighede dienslewering kan verbeter. Die integrasie van KI in biblioteke noodsaak ’n transformasie in ’n wye repertoire van vaardighede, instrumente en kennis om dinge doeltreffend in die digitale omgewing te navigeer en daarby aan te pas.”

Volgens Neli word die verskuiwing na digitale platforms deur nuwe tegnologieë gedryf, en dit vereis van biblioteke om hulle bedryfsmodelle aan te pas om kulturele en personeelveranderings in te sluit.

“Doeltreffende dienslewering vereis nou dat bibliotekarisse deur verskillende digitale platforms met gebruikers skakel en om inhoud vinnig te bekom. KI se grootskaalse impak gaan die toekoms vorm, en dit nodig maak vir biblioteekkundiges om nuwe vaardighede en bevoegdhede aan te leer.”

Dit titel van Ntobeko se referaat was: Epistemological Investigation of Academic Librarians in the Context of Artificial Intelligence.

“Individue en vakkundiges wat onderlê is in die bedryf het uitvoerig oor die beduidendheid van KI in die biblioteek- en inligtingsomgewing gepraat. My aanbieding het die uitdagings en geleenthede ondersoek wat KI in akademiese biblioteke veroorsaak.”

Ntobeko se doel was om insig vir ingeligte besluitneming en etiese implementering te verskaf. “Ek het verskillende dimensies ondersoek wat die aanvaarding en etiese gebruik van KI beïnvloed.”

Meer oor die simposium

Die simposium is vroeër hierdie jaar gehou en het saamgeval met die tiende Kongres van Universiteits- en Gespesialiseerde Biblioteke wat in Santiago plaasgevind het. Dit is gesamentlik deur die Universiteit van Chili, die Library of the National Congress of Chile, en die International Federation of Library Associations and Institutions (IFLA) georganiseer.

Die NWU het die derde Kunsmatige Intelligensie Simposium verlede jaar in Potchefstroom aangebied. Die volgende simposium sal in Junie 2025 deur die Universiteit van KwaZulu-Natal aangebied word.

neli

Neli Tshabalala, direkteur van Gedeelde Dienste, en Ntobeko Sikhakhane, bestuurder van Inligtingshulpbronne, het die kultuur en geskiedenis van Chili ervaar. Hulle het ook ander gespesialiseerde biblioteke in die omgewing van die simposium besoek.

Submitted on Fri, 07/05/2024 - 09:48