Bewaring van Afrika se biodiversiteit deur genomika hou verband met voedselsekerheid

Deur genomika te gebruik om die Afrika-vasteland se biodiversiteit te verstaan en bewaar, kan die aanpasbaarheid van plante, diere en ander lewensvorms bevorder word sodat hulle by klimaatsverandering kan aanpas om voedselsekerheid te behou, sê ’n navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU), dr Roksana Majewska.

Sy en haar medenavorsers by die African BioGenome Project (AfricaBP) het onderneem om die genomiese biodiversiteit van Afrika te beveilig en te bewaar deur ’n onderneming wat uit Afrika gelei word. Hulle wil die genome van plante, diere, swamme en protiste wat endemies aan die vasteland is, sekwensieer.

Dr Majewska, wat ook die voorsitter van die AfricaBP-loodskomitee is, sê dat AfricaBP sedert sy ontstaan ’n oortuigende saak uitgemaak het vir die behoefte om die vasteland se biodiversiteit deur genomika te verstaan, en so die volhoubare gebruik van inheemse flora en fauna te verseker.

“’n Voorbeeld is dat kultureel-relevante voedselhulpbronne soos weesgewasse en ander stapelvoedsels wat noodsaaklik is vir voedselsekerheid, nog nie gesekwensieer is nie.  Hierdie genetiese inligting is belangrik om biodiversiteit te bewaar en te verseker dat daar in die toekoms aanpassing sal wees wanneer omgewingsdruk soos klimaatsverandering voorkom.

“Dit is dus ’n fundamentele prioriteit vir AfricaBP om genomiese inligting op die vasteland – deur en vir die mense in Afrika – in te samel, te sekwensieer en te stoor.”

Dr Majewska sê dat AfricaBP, en toekomstige projekte wat uit die ontdekkings en prestasies daarvan sal ontwikkel, sal verseker dat voedselstelsels volhoubaar is en dat die biodiversiteit regoor die vasteland bewaar word. Daarbenewens sal dit bydra dat die doelwitte van die post-2020 wêreldwye biodiversiteitsraamwerk (Global Biodiversity Framework) van die Biodiversiteitsverdrag en die Verenigde Nasies se volhoubareontwikkelingsdoelwitte bereik word, terwyl die pogings deur die konsortium vir menslike oorerflikheid en gesondheid ondersteun word.

Hierdie doelwitte van AfricaBP kan egter nie bereik word sonder ondersteuning van die regerings in Afrika, die Kommissie van die Afrika-Unie, nasionale en streeksagentskappe, en internasionale vennote en organisasies nie. Dr Majewska sê dat benewens beleide om AfricaBP te ondersteun, die regerings in Afrika saam met streeks- en internasionale vennote moet werk om in die infrastruktuur te belê om genomika en bio-informatika op die vasteland te ondersteun.

“Benewens die direkte voordele van nuwe tegnologie en ekonomiese groei wat deur ontdekkings en beleggings in genomika en bio-informatika in Afrika gewaarborg word, beplan AfricaBP ook om ’n kennisspilpunt vir die veld te ontwikkel,” sluit sy af.

Oor AfricaBP

Die eerste bekendstelling van AfricaBP het in Junie 2021 plaasgevind en daar is nou 109 wetenskaplikes en 22 organisasies uit Afrika wat navorsers, instellings en korporasies uit al vyf streke in die Afrika-Unie verteenwoordig.

AfricaBP is ’n vennoot in drie komplementêre grootskaalse, wêreldwye genomiese projekte soos die 10 000 Plant Genomes Project, die Vertebrate Genomes Project en die Earth BioGenome Project.

Die NWU het reeds via die Epizoic Diatom Genomes Project bygedra tot die agenda van die AfricaBP, wat gefokus is op die sekwensiëring van die genome van hoogs unieke diereverwante alge uit Afrika. Hierdie projek word deur dr Majewska en dr Marianne Pretorius van die NWU se vakgroep Biochemie gelei en word deur medewerkers van Unisa en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes ondersteun.

AfricaBP is as geheel verbind tot die verbetering van voedselsekerheid, die bewaring van natuurlike hulpbronne en die deel van oop data op ’n inklusiewe en billike manier wat op die prioriteite van die mense in Afrika gerig is.

Dit is ’n ambisieuse en belowende projek wat gereed staan om die vasteland in die volgende groot stadium van navorsing en innovasie in te lei.

Dr Roksana Majewska

Dr Roksana Majewska

 

Submitted on Mon, 03/28/2022 - 16:31