“In ooreenstemming met markverwagtings het die Monetêrebeleidskomitee (MBK) met ’n meerderheidstem van drie teenoor twee die repokoers met nog 75 basispunte verhoog. Die minderheid was ten gunste van ’n 50-basispuntverhoging.”
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die verklaring en besluit van die MBK op 24 November het ’n verdere sterk boodskap oorgedra oor hoe die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) inflasie in Suid-Afrika wil hanteer.
Hy verduidelik dat met wesensinflasie en kerninflasie wat bo markverwagtings gestyg het, die SARB steeds ’n toename in inflasierisiko’s in die onmiddellike toekoms voorsien. Dit versterk die streng benadering wat by die MBK se vorige vergadering van September 22 ingeneem is.
“Dit was dus onvermydelik dat, met inflasie wat skynbaar meer hardnekkig is as wat verwag is, die MBK op ’n robuuste wyse gaan voortgaan met die siklus van die verhoging van rentekoerse wat dit aanvanklik ’n jaar gelede begin het, met die rentekoers wat sedertdien met 275 basispunte verhoog is.”
Prof Parsons sê dit is duidelik dat Suid-Afrikaanse besighede en verbruikers vir langer hoër inflasie sowel as hoër rentekoerse sal moet trotseer, hoewel die inflasiekoers dalk volgende jaar kan daal. Dit wil voorkom of rentekoerse hoog gaan bly tot die SARB genoeg vertroue het dat inflasionêre verwagtings weer gestabiliseer het.
“Die inherente beleidsdilemma om ’n gebalanseerde uitkoms vir die SARB se teeninflasionêre mandaat te bereik, word egter toenemend groter in ’n ekonomie wat die MBK self in die verlede dikwels as ‘broos’ beskryf het. In die veronderstelling dat Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem grootliks struktureel van aard is, beteken dit nie dat selfs duurder geld ’n gladde of pynlose proses in die ekonomie gaan bly nie. Daar is geen konvensionele oormaat vraag in die ekonomie nie. Stygende rentekoerse begin besteding aan bande lê, en begin nou in intydse data vir besighede sowel as vir verbruikers wys.”
Volgens prof Parsons, hoewel die feit dat die Suid-Afrikaanse ekonomie se gesukkel om genoegsame momentum te verkry hoofsaaklik deur ’n aantal ander wêreldwye en plaaslike faktore gedryf word – veral die Eskom-kragonderbrekings – kan die geleidelike stygende leenkoste ook uiteindelik ’n ernstige struikelblok tot die gewenste vlakke van arbeidsryke groei veroorsaak.
“Die verdeelde stem by die MBK weerspieël dat meer as een interpretasie moontlik is oor die regte tempo waarteen leenkoste in Suid-Afrika moet styg. Daarbenewens beskou die SARB ook nou die risiko’s vir binnelandse groei as negatief, vergeleke met hulle beskouing by die vorige MBK-vergadering dat dit ‘gebalanseerd’ is.”
Prof Parsons sê dat indien die konvensionele tydsverloop in die monetêre beleid bly geld, die volle impak van die huidige rentekoersstygings breedweg gaan saamval met die SARB se hersiene groeivooruitsig van die bruto binnelandse produk (BBP), wat nou ver onder die 2% vir 2023 en 2024 is.
“Indien dit waar is dat die negatiewe risiko’s vir Suid-Afrika se BBP-groeivooruitsigte nou vermeerder het, gaan dit steeds versigtige monitering deur die SARB vereis. Die MBK moet inderdaad swaar op data oor die rigting en die tempo van verdere stygings van die rentekoers steun om die onbekende ekonomiese waters te kan trotseer en nuwe struikelblokke van ’n onsekere oorsprong te vermy.”