Bemagtiging van onderwys: bring tegnologiekennis na verarmde klaskamers

In ’n 4IR-wêreld maak die Noordwes-Universiteit (NWU) seker dat leerders by agtergeblewe skole nie agterbly nie, en dat hulle die gereedskap en kennis het om aan die uitdagings van die immerveranderende werksomgewing te voldoen.

Daarmee in gedagte het die Fakulteit Opvoedkunde op die NWU se Mahikengkampus ’n gemeenskapsprojek geïnisieer, naamlik “’n Diensleerprojek vir skole se opvoedkundige integrasie van IKT’s” (“A service-learning project for schools’ pedagogical integration of ICTs”).

Die projek is daarop gemik om inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT’s) in klaskamers te integreer sodat onderrig en leer kan plaasvind. Die projek wil die ongelykhede in Suid-Afrikaanse klaskamers aanpak, veral in Noordwes, waar staatskole in armer gemeenskappe nie toegang tot IKT-hulpbronne het nie en onderwysers nie oor die tegnologiese en tegnologies-pedagogiese kennis beskik nie.  

Die doelwitte van die projek sluit in om die NWU se voordiensonderwysers en praktiserende onderwysers met tegnologiese kennis toe te rus sodat die digitale ongelykheid in skole oorbrug kan word en onderrig- en leerpraktyke deur die integrasie van IKT verbeter kan word.

Die projek wil graag verskillende uitkomste lewer, soos om praktiese kennis te verkry deur onderrigstrategieë toe te pas, innoverende lesse wat IKT integreer, te ontwerp en aan te bied, die vermoë te verkry om IKT’s in die klaskamer te integreer, beste praktyke voor te stel, oor onderrigervarings na te dink, en pedagogieë te ontleed en te verbeter. 

Die doelwitte sluit in die fasilitering van die integrasie van IKT by onderrig en leer, die verskaffing van IKT-hulpbronne aan skole, die bevordering van innoverende pedagogieë, die opleiding van studente en onderwysers in basiese IKT-vaardighede en -integrasie, die bekendstelling van leerders aan basiese rekenaarvaardighede en die gebruik van die projek vir navorsing.

Volgens dr Shepherd Mlambo, ’n dosent in rekenaarwetenskaponderwys in die Skool vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie-onderwys, het die projek aanvanklik donasies van 25 HP Compaq Pro 6300-rekenaars van die NWU ontvang, en is twee skole, Bodibe Sekondêre Skool en die Tetlano Sekondêre Skool, geïdentifiseer om die projek mee af te skop.

“Vordering was stadig as gevolg van verskeie uitdagings, insluitende mededingende behoeftes in die skole, beperkte finansies en die nodige opgraderings van die infrastruktuur. Die doel van die projek is om die ingesteldheid van skoolhoofde en onderwysers te verander en om die reikwydte daarvan geleidelik uit te brei,” verduidelik hy.

Dr Mlambo sê die onmiddellike plan vir die skole is om die rekenaars wat geskenk is, op te stel, oopbron- opvoedkundige hulpbronne te integreer, en klaskamers in te rig om oopbron-leerbestuurstelsels te kan gebruik.

“Die projek erken die onderwysers se behoeftes en voorkeure, en toekomsplanne sluit in dat meer skole betrek word, behoefteontledings gedoen word, oor die doeltreffendheid van die projek nagedink word, meer onderwysers gewerf word en bykomende hulpbronne gesoek word,” voeg hy by. 

Hy sê die volhoubaarheid van die projek het staatgemaak op die universiteit se maatskaplike verantwoordelikheid om uitdiensgestelde rekenaars aan gemeenskapsprojekte te skenk. Wanneer die projek goed gevestig is, is die voorneme om verskeie korporatiewe entiteite vir donasies van hulpbronne en ondersteuning te nader.

Dr Mlambo bedank ook graag kollegas wat tot die projek bygedra het. Hulle is onder andere Bibi Bouwman, direkteur vir volhoubaarheid en gemeenskapsimpak, dr Elize Küng, adjunkdekaan van gemeenskapsbetrokkenheid en belanghebberverhoudinge in die Fakulteit Opvoedkunde, en Lester Mpolokeng, bestuurder in die kantoor van die adjunk-visekanselier vir gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampus-bedrywighede.

Dr Shepherd Mlambo en Thabang Motaung, ’n onderwyser by die Bodibe Sekondêre Skool, inspekteer die rekenaarlokaal wat vir die projek opgeknap moet word.

Die NWU se ruim skenking van rekenaars bring oneindige moontlikhede na geïdentifiseerde skole.

Submitted on Tue, 07/04/2023 - 11:25